2024 Kgalagadi – Dag 6

Somer in die Kgalagadi!

Lang Stories – Min Fotos!

Donderdag – 18 Januarie 2024

Wat ‘n heerlike koel nag! Die tent het vensters op drie kante gehad, ons het almal oopgezip gelos deur die nag en daar het heel nag ‘n briesie oor ons gespoel.

Vir die nagte in die kleiner kampe het ek onderneem om die ou slaappilletjie op die bedkassie te los, aangesien die kans vir nagbesoekers soveel groter was… Ek het besef ek sou enige iets van middernag af baie maklik wakker word van enige geluide… en dit was ook so…

Ek het wakker geword… Ek het my ore gespits en probeer bepaal waar die geluid vandaan kom… Dit was ‘n prrr-prrr… Was die luiperd oppad watergat toe, by ons tent verby? Ek het ‘n rukkie gelê en luister, maar die geluid het nie aanbeweeg nie. Ek het regop op my bed gestaan en by die tentvenster bo my kop uitgekyk, maar die nag was te donker om enige iets uit te maak… Christoff het heerlik geslaap, so ek wou hom nie pla met ‘n flits nie.

Ek het al wonderend weer teruggeklim op die bed. Op ‘n stadium was die prrr-prrr weer naby. Ek het regop gesit om mooi te luister… en toe swoep die prrr-prrr by my kop verby! Die prrr-prrr was eintlik die woerrr-woerrr van ‘n vlêrmuis in die tent.

Ek het stadig teruggelê op die bed… en myself kalmeer met die gedagte dat die doom-spiraal-muskiet-bevegter vannag hulp gehad het… en dat dit ou-vrou-stories is dat ‘n vlêrmuis in jou hare kan verstrengel raak…

Soos dit gaan as mens in die nag wakker lê, dink mens ‘n klomp dinge uit… Skerpioene op die vloer wat net wag dat jy ‘n draai loop… of slange in die tent… Dit herinner my! Die opsigter het gewaarsku oor beide. Sy aanbeveling was dat ons die slaaptent se deur altyd toe hou, tensy ons in die tent is, want hulle glip in en maak hulleself iewers tuis… Het ons by sy instruksies gehou? Ek kon nie onthou nie.

Ek en my blaas het dus maar bly lê… en toe die luggie meer afkoel in die vroegoggend, het ek eers my kuite versigtig oor die deken gevryf om te voel vir enige hobbels, voor ek gewaag het om onder dit in te kruip.

Toe dit lig genoeg begin raak, dat ek darm kon sien of daar iets op die vloer is, het ek tippie-tone opgestaan en ‘n draai geloop. Oppad terug bed toe het ek eers gaan loer aan die watergat se kant, maar daar was net jakkalsies by die watergat.

My tippie-tone was egter nie sag genoeg nie, want toe ek omdraai, vra Christoff of daar iets by die watergat is. Net jakkalsies, sê ek, maar toe ek uitkyk om in hulle rigting te wys, sien ek die twee leeu mannetjies in die watergat se lig instap.

Dit was nog te donker buite om te probeer fotos neem, maar ons het opgestaan, gaan koffie maak en met die verkyker die twee dopgehou… tot dit lig genoeg geraak het vir fotos.

Vroegoggend verrassing

Ons het amper twee ure so van die stoep af saam met hulle gekuier by die watergat. Hier was die leeus by ons huis, so hoekom sou ons wou gaan rondry om te kyk of ons iets kan sien.

Beurte by die watergat
Drink ‘n bietjie, lê ‘n bietjie

Die jakkalsies het verder weg in die rivierloop bly rondhang, maar dit nie weer nader aan die watergat gewaag nie.

Jakkals-bende

Daar was ‘n bok of twee wat ook in die rivierloop aangekom het, maar die oomblik as hulle die twee menere gewaar het, het hulle vasgesteek. Van hulle het dadelik begin wegstap en ander het rondgehang, in die hoop dat die twee leeus die wyk sou neem.

Op die buitewyke

Christoff het homself tuisgemaak op ‘n stoel en met die vêrkyker die omgewing bekyk. Die twee leeus het op ‘n stadium agter koelte begin aanskuif… eers in die rivierloop en toe teen die wal uit… Soos die son hoër geklim het, het hulle koelte kolle ook al hoe kleiner geraak en dan het hulle weer geskuif.

Lang been vêr kyker
Die toneel waaraan hy hom verkyk het

In al die tyd wat ons hulle dopgehou het en hulle al teen die rivierwal wegbeweeg het, het die ander diere dit steeds nie nader aan die watergat gewaag nie. Behalwe natuurlik vir ‘n skilpad… Die leeus het nie baie vêr weg beweeg nie, maar hulle smelt so weg in die omgewing, dat as mens nie geweet het waar hulle was nie, sou mens hulle nie gewaar het nie.

Rooi is die ligging van die leeus… en geel die skilpad

Dit was egter tyd om op te pak, na ‘n wonderlike eerste ervaring in die Kalahari Tented Camp. Ons het alles weer in Winston gelaai, maar besluit ons gaan kyk of ons die luiperd by die swembad kan gewaar… Ons het al om die swembaddek gery… en daar gewaar ons ‘n beweging… Hy het agter balkies ingekruip – wat seker juis opgesit was om diere tussen die twee mure van die gebou uit te hou. Hy het baie sleg gelyk, van wat ons kon sien. Baie verwaarloos. Verseker nie ‘n gesonde luiperd nie… en verseker nie hoe ons ons eerste luiperdfoto wou neem nie.

Skuilende luiperd

Ons het kort voor uitteken-tyd uitgery by die kamp en stadig-stadig afgery teen die Auob. Ons was nie lus vir wye draaie, na gister se WYE draai, nie. Ons is by Craig Lockhart in en uit – geen ander dierelewe nie. Met ons stadige ryery het ek darm die plantlewe mooi bekyk en gestop om een van die plante af te neem – pragtige fyn blommetjies in die andersins dor wêreld. En volop! Want hulle is uiters giftig vir die diere. Baie gepaste naam – Gifbol!

Gifbol langs die pad

By Dalkeith was daar ook nie veel te sien nie en ons besluit toe om terug te draai Mata-Mata toe. Ons wou ‘n kans vat en kyk of ons vroeër kon inboek vir ons bespreking in een van die Riverfront Chalets… Maar by Mata-Mata is hulle net so streng soos by Twee Rivieren, so ons moes maar wag tot die klok twee uur slaan.

Ons het Winston se maag gaan volmaak en langs die heining, onder ‘n boom gaan uitkamp, totdat ons die sleutel kon kry. Ons het ons kampstoeltjies uitgepak en elkeen met ‘n koue bier/savanna in die hand, onsself tuisgemaak. Daar het niks voor ons in die rivierloop aangegaan nie. Daar was egter herinneringe om op terug te val.

Toe ons in 2015 vir die eerste keer in die Kgalagadi was, het ons ‘n ongelooflike ervaring by Mata-Mata se watergat gehad. Die leeus was bedrywig by die watergat en het opgestap na die huisies langs die rivier. Die mense moes hulle met spreiligte (en ‘n gebulder) wegjaag. (Kyk gerus hier na daardie belewenis: 2015 Kgalagadi – Dag 5 – Mata Mata leeus – daar is ook ‘n skakel na ‘n Youtube video wat iemand geneem het.) Sou ons iets soortgelyk ervaar vanaand? Sekerlik nie! Ons het dan met leeus voor ons huisie wakker geword vanoggend.

Ons was baie dankbaar toe ons die sleutel kon kry en ons het haastig ons intrek geneem. Die Riverfront Chalets is baie mooi uiteengesit, met ‘n lieflike stoep en braaiplek wat uitkyk oor die rivierloop en watergat.

Ons het egter eers gaan ontspan onder die lugversorger in die kamer vir ‘n heerlike, koel middagslapie. Toe ons daar opstaan was ons glad nie lus vir rondry nie en het ons gaan uitspan op die stoep…

Toe die son lang skaduwees begin gooi, het daar ‘n jakkalsie by die heining rondom die huisie kom snuffel. Net ter verduideliking. Die kamer en sitkamer loop uit op die stoep en daar is ‘n elektriese heining onder rondom die huisie- en stoepmuur. Dit hou verseker die klein snuffelende knapies weg, maar ek dink die leeus van 2015 sou redelik maklik tot op die stoep kon kom.

Snuffelende jakkals by die huisie

Ons het vuur aangesteek en gestaar oor die rivierloop… hier was ons al weer langs die Auob… Ons huisie was tussen die twee watergate, maar nader aan die een wat van die kampplek ook sigbaar is.

Nou gaan ons braai – in die Auob

Na ‘n lekker stukkie braaivleis, met ‘n groentetjie, het ons in die skemer op die stoep bly sit… En daar stap ‘n leeumannetjie uit die bos en bekyk die watergat. Hy het versigtig nader gegaan, want die kampeerplek se geluide was duidelik steurend vir hom… Die volgende oomblik stap ‘n tweede leeumannetjie in die watergat se lig in. Dit was dieselfde twee leeumannetjies van die oggend! Weer met ‘n klompie jakkalse wat in die omgewing rondgehang het. Seker hoopvol vir ‘n oorskiet-happie as die menere tot jag sou kom.

Die leeus – en jakkalse – het egter nie lank vertoef nie. Die geluide vanuit die kampeerplek het hulle duidelik ongemaklik gehad… Maar ons het ons dag begin EN geëindig met leeus! Hoe gelukkig was ons!

Vir meer gebeure, click hier vir die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *