Somer in die Kgalagadi!
Gharagab!
Maandag – 22 Januarie 2024

Ons het vroeg geroer en vinnig gepak sodat ons net na 7h die wasgoed kon ingee by die winkeltjie en toe pad gevat by die noordelike hek uit. Ons het rustig opgery deur die verskillende watergate, maar buiten vir twee bateleurs wat koppe bymekaar gesit het – met hulle rug op ons gekeer – en ‘n klomp blouwildebeeste by Kwang se watergat, was die veld nog redelik stil.

Daar was beweging in die droë loop so halfuur later en ons het Winston so bietjie teen die wal uitgetrek om beter te kan sien. ‘n Leeu mannetjie was besig om rustig aan te stap… en het homself gaan neervlei by ‘n ander leeu mannetjie. Ons het nooit eers die lêende mannetjie gesien tot die ander een by hom aangekom het nie.

Kort na ons weer begin ry het, kom die einste Suzuki Espresso (van Mata-Mata en Nossob) van voor af aangery. Hy het gewink dat ons moet stop en uitgevra oor wat ons sover gesien het en waarheen ons oppad is. Toe hy hoor ons is oppad Gharagab toe, was hy baie jaloers en het gegrap dat ons hom moet saam sleep. Team Suzuki!
Met die wegry, sien ons hy het intussen ‘n stuk papier in sy agterruit opgeplak waarop “Bean Safaris” geskryf was. Nogal gepas! Hy was omtrent ‘n Mr Bean op Safari… en so is hy toe sommer gedoop van daar af.
Die res van die watergate het hoofsaaklik bokke opgelewer, maar by Polentswa was daar weer ‘n kopkrap-situasie aan die gang.

By Lijersdraai se piekniekplek het ons ‘n koeltekol gaan soek en ‘n ligte happie gevat, voor ons verder noord gerits het Union’s End toe. Kort na ons by Lijersdraai weg is, het ons agter Shaggy the Van Man ingeval. Sy VW bussie was lekker hoog en het bo oor die pad se walle gekyk. Hy’t aasvoëls in die rivierloop gesien – ‘n hele klomp – en ons het net een in die boom gesien. Met BAIE moeite net ons ook hoog genoeg gekom, dat ons darm ‘n foto kon neem.
Verder af in die pad was daar nog ‘n paar aasdiere besig om ‘n karkas skoon te maak. Hierdie keer was dit darm makliker om ‘n foto geneem te kry.

By Geinab watergat gewaar ons toe wrintiewaar ‘n vlakvark. Dis die eerste keer in al ons besoeke aan die Kgalagadi wat ons ‘n vlakvark te siene kry, maar dit was te diep aan die Botswana kant dat ons ‘n foto kon neem.
By Union’s End het ons bene gerek en reggemaak vir ‘n foto van ons twee saam. In 2016, toe ons die vorige (eerste) keer daar was, het Christoff my gevra om te trou, maar ons het nooit ‘n foto van ons saam geneem nie. (Sien 20 September 2016 vir die herinnering van 8 jaar gelede.) Hierdie keer was ons gereed om saam by die rigtingaanwyser te glimlag…

Oppad terug na die Gharagab afraaipad, kom daar ‘n eland aangedraf – ook te vêr vir ‘n foto – maar ons was verlig om te sien daar was darm nog elande oor in die Kgalagadi.

Die 32km sanderige twee-spoor-paadjie was myne om te verower. Dit was slegte sinkplaat met tye, maar verder niks wat Winston nie kon hanteer nie. Ons het ‘n paar keer gestop om die tonele af te neem, maar daar was nie veel wild in die omgewing nie… behalwe een gemsbok wat ook in die koelte weggekruip het.

Met die inry in die kamp in, steek ons vas by die opsigter se huisie… In die skadu teen die huisie, lê ‘n leeu! Die maanhaar was maar ongemaklik met ‘n ystervark pen wat agter sy linkerwang uitgesteek het.

Timothy, die instaan-opsigter, kon nie uitkom om ons permit te vat nie… Ek wonder hoekom?!? Hy het maar so van die stoep af deur die karvenster beduie waar ons huisie is. Hy het ook verduidelik dat daar 2 ander leeu mannetjies anderkant die watergat onder die bome lê, so ons moet maar versigtig aflaai. Hy’t ook gevra ons moet net van die ander gaste gaan waarsku, voor ons begin aflaai… en dan natuurlik Winston se bande beskerm vir die nag – want die jonger mannetjies is berug daarvoor dat hulle bande stukkend kou.
Ek het Winston amper met sy stert op die stoepie parkeer, sodat ons vinnig kon uitlaai… Wel, nie ons nie. Christoff het die afpak-werk gedoen, terwyl ek die hekkie beman het. Christoff het Winston bietjie weggetrek onder ‘n boom en baie vinnig die skerms om die bande geplant, terwyl ek verseker het dat die leeu steeds langs die opsigter se huisie rondlê.


Die ge-“pen”-de mannetjie het later verbygestap om te gaan water drink en in die proses het die ander twee opgestaan en iewers heen verdwyn.


Na die leeu se dors geles was, het hy aan die anderkant van die huisie onder ‘n boompie gaan lê… Volg net die punt van die braaier se rooster – op die foto onder – tot by die eerste donkergroen bossie… en siedaar.
Timothy het kom inloer – nadat sy leeu-wag weggestap het – en kom hoor of alles reg is in die huisie. Hy het verduidelik van die ouer leeumannetjie met die 4 jonger leeumannetjies wat op die oomblik in die kamp se omgewing is. Daar is ook ‘n wyfie met 2 baie klein welpies, wat sy nog moet ronddra en dat sy hulle onder die uitkykpunt se dak wegsteek met tye wanneer hulle gaan jag…
Ons het hom ook gevra oor die hoeveelheid karkasse wat ons opgemerk het, waar daar nog velle aan was, wat gewoonlik deur aasdiere gestroop sou gewees het. Hy het verduidelik dat baie van die diere skielik begin vrek het na die groot reën in Desember en dat daar dalk parasiete in die reën-poele was wat die diere laat vrek het.
Nadat Timothy weg is, het ons vuur aangesteek. Terwyl ons op die stoepie was was daar ‘n paar jakkalse by die watergat en die leeu het geskuif van struik na duin. Met die oorstap duin toe was dit duidelik hoe uitgeteer die mannetjie was.
Terwyl ons geëet het, het die mannetjie ook verdwyn, maar Timothy het weer kom inloer, nadat ons geëet het en ons het weer lekker met hom gesels. Hierdie keer het ons na stories geluister van sy werkery by Xaus Lodge, ervarings met hiënas wat ‘n gemsbok gevang en lewendig begin opvreet het. ‘n Ystervark het hom bygekom met ‘n paar penne en hoe lank dit hom geneem het om te herstel van dit. Hy het vertel hoe taai ratels is, waar een ratel drie jong leeus laat opgee het… en nog vele meer staaltjies oor sy ervaringe in die park.
Hy het ook bietjie vertel van die werkers en hulle kinders en hoe die park dit hanteer, met die kinders wat in Upington skoolgaan en hulle ry elke naweek om die kinders te gaan haal. Dit was ‘n baie interessante (en insiggewende) kuier en nadat hy weg is het ons onsself op die stoep se stoele tuisgemaak en weer die dag se gebeure bespreek.
Hier is nog ‘n paar fotos van die dag:





Vir meer gebeure, click hier vir die volgende dag.
