2024 Kgalagadi – Dag 11

Somer in die Kgalagadi!

Gharagab na Nossob!

Dinsdag – 23 Januarie 2024

Dit was weer ‘n heerlike, koel nag in die Kgalagadi! Interessant hoe die wildernis kampe (behalwe Bitterpan) uitdraai om koeler te wees – sonder lugversorging – as die groter kampe se blyplek. Ons het selfs die seile opgezip in die nag omdat die windjie te koud geraak het.

Ons het ons koppie koffie op die stoep gaan drink, hoopvol dat daar ‘n soortgelyke bederf as by Bitterpan sou wees, maar dit was toe nie die geval nie. Die sonsopkoms was ongelooflik mooi, maar die watergat het net jakkalse en voëls opgelewer.

Son opkoms oor die Gharagab watergat

Toe die son eers behoorlik op was, het die veld rondom die watergat, sommer somervars gelyk.

Ons het gesien hoe Timothy die omgewing gaan verken het van die uitkykpunt af. Daar was duidelik niks gevaarlik in die omgewing nie, want hy het ‘n paar tellings later teruggekom en die braaier kom skoonmaak. Hy het ons selfs genooi om nog ‘n nag oor te bly, want een huisie het oopgegaan vir die nag, maar ons het besluit om maar terug te gaan Nossob toe.

Gharagab kamp van die uitkykpunt af

Ons het Winston weer nader getrek en ons goedjies gepak en ingelaai. Ons het by die uitkyk gestop en die kamp van daar bo af bekyk. Die kamp bestaan ook net uit 4 huisies, soos by Bitterpan, maar dit was verseker nie op die rant van ‘n droë pan nie en daar was privaatheid tussen die huisies. Ons huisie kon jy skaars sien deur die bome aan die linkerkant. Huisie 2 en 3 is redelik sigbaar van die uitkykpunt af, maar huisie 4 is weer agter bome. Die paadjie van die uitkykpunt af loop na die opsigter se huisie toe.

Ons sal verseker weer in Gharagab kom kuier as ons die geleentheid kry… veral met Winston! Hy draf die 4×4 sandduine uit soos ‘n woestyn akkedis.

Winston – in sy element

Die 4×4 roete terug was baie meer sanderige duine as met die inkom. Winston het lekker teen die duine uitgekruip, soms geskommel en geskud, met van die gate wat beurte gemaak het in die 2 spoor paadjie, maar elke keer sonder moeite bo uitgekom.

Die foto wys nie duidelik hoe die pad gelyk het nie, maar verbeel jouself daar ry ‘n swaar gelaaide 4×4 bakkie wat elke kort-kort vasskop in die sand en bietjie sand uit spin, voor dit weer vasskop om verder te kan ry… Dan vat jy daai paadjie met Winston en voel hoe jy dip elke keer as ‘n bakkie-wiel vasgeskop het in die sand, voor die ander 3 wiele dit uitgery gekry het… so skommel jy links-regs-links-regs teen die duin uit…

Die pad terug Nossob toe was maar dor

Selfs in die dorheid was daar ‘n paar gemsbokke, duikertjies en steenbokkies. Kort voor ons terug was in die groot pad, was daar ‘n springbokkie wat pas afgelaai het. Die nageboorte het nog uit haar gehang en die splinternuwe bokkie het bewerig by haar gestaan.

Daar was ‘n breëkop arend besig om vere skoon te maak

Soos ons in die Nossob teruggery het, het die temperatuur ook begin klim en ons was baie dankbaar vir die verkoelde chalet toe ons terug was in Nossob kamp en ons ‘n middagslapie onder lugverkoeling kon vat.

Ons het winkeltjie toe gestap om ons wasgoed te gaan haal en toe oud-Suid-Afrikaners raak gesels. Hulle het uit Nieu-Zealand kom vakansie hou in die Kgalagadi en ons met smaak vertel van vorige ervarings wat hulle hier gehad het… As die Kgalagadi eers in jou bloed is…

Vir meer gebeure, click hier vir die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *