Somer in die Kgalagadi!
1-2-3 Welpies!
Vrydag – 19 Januarie 2024
Vandag verruil ons Mata-Mata vir Nossob, so daar het ‘n paar uur in Winston vir ons gewag. Ons het rustig opgestaan, begin klaarmaak en pak. Dit was nog lekker koel op die stoepie en alhoewel daar niks in die rivierloop was nie, het ons ‘n wyle op die stoepie vertoef… en Christoff het sy biologiese “selfie stick” ingespan om te wys dit is ons wat daar was.
Die hitte het gesorg dat daar geen beweging in die Auob was nie. Selfs kameelperde was skaars… Ons het die langer pad rondom Veertiende boorgat gevat en ons was net op die punt om weer aan te sluit by die hoofroete, toe ons voorgekeer word. Die oom wou net deel dat daar leeus – MET welpies – naby Dertiende boorgat was…
Ons het so bietjie optimisties gevoel, maar ook logies redeneer dat leeus gewoonlik nie langs die pad vertoef soos die dag warmer raak nie. Gelukkig was die Dertiende boorgat net so 9 km weg… Daar was nog twee voertuie by die toneel, so ons het sommer met die aankom geweet ons was nog betyds… En was ons nie betyds nie!
Die toneel wat ons begroet het, was van ‘n klomp slapende welpies, agter ma se rug… en ‘n uitgeputte pa in die pad.
Ons eerste leeuwelpies in die Kgalagadi! Gelukkig vir ons het hulle begin roer, kort na ons daar gestop het en het hulle gesorg vir ‘n paar pragtige fotos! Die eerste een wat wakker geword het, het gegaap, gerek-en-strek en oor ma geklouter. Die ander tweetjies het so bietjie geroer, maar nie veel nie… en tussen alles deur het pa leeu rustig in die koel sand van die padwalletjie bly slaap.
Kort voor Kamqua was daar ‘n arend besig om te pik aan oorblyfsels van ‘n roofdier se vangs.
By Kamqua was ‘n trop wildebeeste naby die piekniekplek. Hulle was redelik onrustig, so ons het maar mooi rondgekyk voor ons uitgeklim het om badkamer toe te gaan.
Hulle was egter besig om onderling bietjie amok te maak en stof op te skop. Dit het nogal gelyk of daar ‘n rammetjie-uitnek (amptelik seker bulletjie-uitnek) was, wat bietjie deur die ouer garde op hulle plek gesit is. Ek is onseker of dit moeilike koeie was wat die bulletjie uitsorteer het en of dit bulle was, want hulle lyk vir my maar almal dieselfde.
Ons het die boonste duinepad aangepak, maar dit was baie stiller as twee dae gelede. Watergate het geen lewe getoon nie, selfs nie by Moravet nie. Ons het wel twee verskillende pare volstruise gesien. Beide pare het kleintjies gehad.
By Dikbaardskolk se piekniekplek het ons weer bene gerek. Die dubbeltjies (duwweltjies) se geel blommetjies was oral en ek het amper op my bas gaan sit om ‘n naby foto te neem… Min wetend dat die bossie – waar Winston parkeer was en ek skuins voor dit gaan neerdaal het vir die fotonemery – behuising verskaf het aan ‘n pofadder. Gelukkig het ons dit eers ‘n paar dae later uitgevind!
Met die oprit na Nossob het ek my verkyk aan die tonele met blommetjies in die sand. Mens kyk natuurlik vir diere en roofvoëls, maar van die natuurtonele is net sulke mooi prentjies.
Daar was nog ‘n paar volstruise – met kleintjies – by Cheleka, maar Kaspersdraai het niks opgelewer nie. Voor ons weggedraai het na Marie se Draai, was daar ‘n bruin arend op ‘n tak. Die boom was egter ‘n ent van die pad af. Die lang lens help darm om sulke roofvoëls nader te bring.
Maar ‘n entjie verder in die pad af, sit daar toe ‘n breëkoparend op ‘n tak – reg langs die pad. Hy was besig om aan iets te knibbel, wat hy nie wou verloor nie. Hy was baie bewus van die voertuig en die lense wat hom dopgehou het, maar wegvlieg was duidelik nie ‘n opsie.
Hy het ons wel behoorlik uitgekyk, toe ons vorentoe ry om nog fotos van sy manelpak te kry.
Naby Marie se Gat was daar ‘n gompou aan die pronk. Nog ‘n eerste vir ons in die Kgalagadi.
Die watergat by Marie se Gat het die normale paar gemsbokke opgelewer, maar verder was dit stil. Ons het by Rooikop ingery, maar daar was ook geen lewe, buiten vir die wit skoenlappers nie.
By Nossob aangekom het Christoff sommer by die brandstof pompe gestop, terwyl ek gaan aanmeld het en die huisie se sleutel gekry het. By die pompe het Christoff aan die gesels geraak met oom Thys – ‘n veldwagter in die Kgalagadi en die gids vir die 4×4 roete in die park. Oom Thys het uitgehelp om brandstof in te gooi, maar was gereed om vrae te antwoord en raad te gee… Bande op een bar… Seiltente op die 4×4 roete is nie gewens nie, want leeus lê dit maklik plat as hulle teen dit gaan staan of lê.
Ons huisie was by die kantoor en winkel – so naby dat die WiFi van die winkel nog bereikbaar was van ons slaapkamer af. So ons het sommer bietjie data gekoop en die geleentheid gebruik om te laat weet alles is nog wel by ons en te verneem of dit ook die geval buite die Kgalagadi was.
Die Suzuki Espresso wat ons in Mata-Mata gesien het, het wrintiewaar onder die boom voor ons huisie gestaan. Dit was deel van die skuiling se parkeerarea ook. Toe die eienaar van die karretjie opdaag, het Christoff met hom begin gesels. Die Australianertjie – skraal mannetjie – was bloedrooi gebrand, maar barsend gelukkig omdat hy in die Kgalagadi kon rondtoer. Op sy eie, in ‘n eenman-tentjie en gewapen met behoorlike fotografie toerusting.
Ons het net klaar uitgepak, toe sak daar ‘n bui reën uit. Wat ‘n lafenis na die dag se hitte! Dit het ons laat waag om vinnig te gaan kyk na die watergat by die skuiling. Ongelukkig het die welige boom van 2016 ook meeste van sy takke verloor en dit was maar ‘n verlate toneel wat ons begroet het.
Terug by die huisie het Christoff vuur aangesteek en ek het vir ons ‘n bykos aanmekaar geslaan… Eerste vuurtjie in Nossob.
Terwyl ons geëet het, het ons bespiegel oor die hoeveelheid beendere wat ons gesien het, maar nog geen hiënas nie. Ook geen uile of elande nie. Oor die elande spesifiek, het ons nogal gewonder, want ons het eland-karkasse in die Auob gesien, waar die vel en horings nog herkenbaar was. Waar is die elande heen?
Hier is nog ‘n paar (welpie) fotos van die dag:
Vir meer gebeure, click hier vir die volgende dag.