2024 Kgalagadi – Dag 8

Somer in die Kgalagadi!

Bitterpan, jou warm ding!

Saterdag – 20 Januarie 2024

Ons huisie was baie naby aan die kamp se heining, maar daar was geen uitsig in die rivierloop in of op die watergat nie. Ons het dus vroeg lewe gekry en pad gevat Cubitje Quap toe.

Oppad was daar jongerige koedoes wat bietjie horings geknoop het, maar glad nie met mening nie. Asof hulle ook nog besig was om wakker te word.

Horing-knopende-koedoes

Twee arende het hulleself tuisgemaak in ‘n dooie boom, van waar hulle die omgewing bekyk het.

Arende in ‘n dooie boom

By Cubitje Quap se watergat was daar jakkalsies wat kom drink het, maar verder was dit maar net die voëltjies wat moed bymekaar geskraap het om te kom water drink… in vlae… en dan weer vinnig weggevlieg het. Daar was ‘n valkie wat die watergat geteiken het en elke kort-kort oor een van die vlae voëltjies geswiep het, wat hulle terug verwilder het in die omliggende bome.

Twee verskillende jakkalse by Cubitje Quap watergat

Vandag ry ons Bitterpan toe, so ons wou nie te lank by die watergat rondhang nie. Die pad terug kamp toe het nie enige iets opgelewer nie. By die huisie het ek vir ons padkos reggekry en ons het begin oppak.

Ons was natuurlik te haastig, want die hek na die Bitterpan pad, sou ons eers van 9h af deurlaat. Ons het maar in elk geval gaan uitcheck en bietjie by die skuiling gaan uithang… Maar daar het ook niks aangegaan nie.

Sekondes na nege stap Christoff ontvangs toe en ek ry Winston om na die kampterrein se badkamers vir ‘n laaste draai… toe vat ons pad! Ek was agter die stuur! Eers bietjie benoud – want ek het van daai duine onthou van 2016 – maar toe al hoe gemakliker… Winston draf net oor die duine…

Ongelukkig was daar bykans geen teken van lewe…

Rondom 12h, net waar Klein Stofpan se watergat uitdraai, sien ons profiele onder ‘n struik… Leeus! Van wat ons kon uitmaak was daar 2 leeu wyfies en 3 jongelinge, wat hulleself van die warm Januarie son probeer verskuil het.

Koelte-soekende leeus

Ons het bietjie teen die wal op gestop, vir ‘n beter hoogte na die leeus toe. Dit het hulle aandag getrek… en ons het skielik begin wonder of dit net die vyf was.

Loerende leeus

Ons het ingery na Klein Stofpan se watergat, net om seker te maak daar is nie dalk ander diere nie. Daar was nie. Met die terugkom, het ons weer by die leeus vasgehak, wat hard probeer het om nie in die son te lê nie… en daar was verseker nou ‘n derde leeuwyfie sigbaar.

Een, twee… ses!

Die jongetjies was baie geïnteresseerd in die groen boksie wat skielik daar rondgehang het, maar nie soveel dat hulle te vêr van die koelte af wou wegbeweeg nie. Dit was net die enetjie wat dit heel buite die koelte gewaag het.

Gee selfs bietjie koelte op

Ons het hulle maar in vrede gelos en aangery. Daar was ‘n gemsbok of twee, volstruise en korhane langs die pad, maar die middagson het gesorg vir bitter min beweging… En toe ry ons Bitterpan in… Heerlik! Maar WARM!

Bitterpan het net vier slaapeenhede – hoofsaaklik ‘n vorm van tent, met ‘n houtraam en stoepie. Die badkamers is oorkant die gangetjie, ook ‘n houtraam, met ‘n kombinasie van sink en seil. (Sien 2016 Kgalagadi vir fotos van hoe dit daar lyk)

Ons het probeer om ‘n middagslapie te vat, maar alles het op die bed gebroei… Les vir die toekoms: Moenie te vroeg ry Bitterpan toe nie! As jy daar is, kan jy nie weer ry nie en daar gebeur nie veel by die pan nie… veral nie oor die hitte van die dag nie.

Gemsbok op die bitter pan

Ons het maar geselsies met Willem – die opsigter – gemaak. Hy het ‘n luiperd in die nag gehoor… so dalk was ons hierdie keer gelukkig…

Ons het maar die middag sit-sit in die koelte-kolle verwyl… Op ‘n stadium het ons bure gekry – ook van Nederland – en weer aan die “buitekant” van die heining in die koelte gaan sit op ons kampstoeltjies. Dit het hulle kans gegee om in die kombuisarea en stoepie se koelte rond te skuif… Ons moes maar wag tot die son laag genoeg gesak het, voor ons kon vuur aansteek.

Die derde voertuig wat aangekom het, was ‘n Pa, met sy twee kinders en die een kind se sleepsel. Hulle het al die pad van Twee Rivieren af opgery, via Nossob, Bitterpan toe.

Ons het aanstaltes gemaak om ons vuurtjie aan die gang te kry. Dit was al bykans 19h.

Die son sak oor Bitterpan

Nadat die vuurtjie aangesteek is, het ons die geleentheid gebruik om ‘n soortgelyke foto te neem, as wat ons in 2016 geneem het.

2024 Gouwse by Bitterpan

Ons het onsself op die stoepie tuisgemaak. Soos wat die son gesak het, het die gheckoes begin blaf… en in die lig van die watergat, het ‘n jakkals of twee kom gheckoes jag.

Hier is nog ‘n paar fotos van die dag:

Bietjie nuuskierig
Die braaier – meer in sy element

Vir meer gebeure, click hier vir die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *