2024 Kgalagadi – Dag 13

Somer in die Kgalagadi!

Leeus! Leeus! Leeus!

Donderdag – 25 Januarie 2024

En so bederf Nossob ons met behoorlike Kgalagadi-naggeluide vir ons laaste nag… Leeus wat brul in die vroë oggend ure!

Na ons opstaan-koppie-koffie, het ons vinnig die huisie ontruim, sleutels ingegee en kort voor 7h by die Nossob hek uit. Ons het die rivierloop gefynkam vir die leeus wat in die nag gebrul het, maar daar was geen teken van hulle nie.

Ons het wel ‘n bruin arend teëgekom

Ons het weer by Bean on Safari verbygery. Hy was besig om sy lang lens in te span en dit het ons ‘n oomblik gegee om die Suzuki Espresso af te neem… Daardie karretjie het hom goed van sy taak gekwyt.

Bean on Safari

Die eerste klomp watergate het niks opgelewer nie. Die veld was egter so kleurvol, dat ons ‘n paar keer gestop het net om dit af te neem. Ons het by Cheleka ingery en was amper om die boom oppad uit, toe gewaar ons die leeu wyfie ‘n entjie weg onder die bome.

Cheleka – chilled leeu wyfie

Daar was spore van twee leeus, maar ons het net die wyfie gesien… en dit was duidelik dat sy nie binnekort van daar af sou weg beweeg nie. Ons het nie lank vertoef nie en verder gery. By Dikbaardskolk se piekniekplek het ons met ander voertuie se mense gesels oor wat hulle langs die pad gesien het. Een van die groepe het bevestig hulle het twee leeus by Cheleka gesien.

Tussen Kameelsleep en Jan se draai kry ons weer leeus langs die pad. ‘n Indrukwekkende mannetjie met drie wyfies.

Een van die leeu wyfies het na ‘n rukkie opgestaan en in die loop langs die pad begin afstap. Die leeu mannetjie het nie lank op hom laat wag om haar te volg nie. Ons het padlangs gevolg en na ‘n rukkie haar gevang waar sy uit die loop uit opstap in die pad in.

Hulle het stap-stap aanbeweeg, maar ‘n paar minute by welige groen gras gaan vassteek… en begin gras vreet…

Vleisvreters aka grasvreters

By Melkvlei se piekniekplek, hak ons toe bietjie vas. Ons het heerlik geselsies gemaak met Belgiërs wat ook van Nossob af gery het. Hulle het vertel van al die toere wat hulle aangepak het, maar ook dat hulle gereeld Kgalagadi toe kom. Dis hulle gunsteling park!

Hulle het met smaak vertel van luiperds by Craig Lockhart en een voorval waar die luiperd onder ‘n kar weggekruip het vir jagluiperds tot daar ‘n gaping was om in die boom in te hol.

Van Melkvlei af het ons stop-stop gery. Daar was poele in die pad van die reën en daar was steeds edelvalkies wat net te lekker aan die skoenlappers gejag het. Daar was ook tonele met die gebrande oorblyfsels van boomstamme wat ek nie kon weerstaan nie.

Jagters van die skoenlappers
Springbokkie by ‘n boom karkas

Kort voor Kij Kij sien Christoff ‘n skilpad onder ‘n boom en terwyl ons besig is om dit af te neem, stop Shaggy the Van Man ook daar. Ons het so deur die motorvensters bespiegel of die skilpad besig was om eiers te lê… en so in die gesels vertel hy dat hy in Hoedspruit bly, maar oorspronklik van Pole af kom.

Net na Kij Kij kry ons toe drie leeu mannetjies, lekker dik gevreet en aan die rus… Twee aan die een kant van die pad en een aan die oorkant. Lekker gemaklik vir ‘n middagslapie… selfs met ‘n doringtakkie in die boud.

Tussen Rooiputs en Leeudril gewaar Christoff ‘n jagluiperd onder ‘n boom, ook heel gereed vir ‘n middagslapie, behalwe vir die gemsbok wat voor die slaapplek patroleer het. Ek weet nie wie was die ongemaklikste nie – die gemsbok of die jagluiperd.

In die laaste been af Twee Rivieren toe, moes ons natuurlik net weer stop en die boom afneem… DIE boom…

Nadat ons ingeteken het in Twee Rivieren, het ons maar afgepak en dinge in orde gekry vir die terugtog terug huistoe, wat ons oor twee dae verdeel het. Daar was nie veel om af te pak nie, behalwe die kameras en tasse.

Ons beplanning het mooi uitgewerk! Ons het ons laaste kos in Twee Rivieren geëet, met klein bietjie ekstra wat kon dien as padkos vir die pad terug. Ons het net nodig gehad om 6 eiers, nog water en fire lighters by die kamp-winkeltjies te koop… en so pakkie koekies of twee… Die res het ons alles saamgery… Hout het ons nie saamgery nie, want ons het geweet ons sal dit daar kry – lekker droog! En dit was so!

Hier is nog ‘n paar fotos van die dag:

Kleurvolle duingras
Blommetjies, blommetjies, blommetjies
Rustende Cheleka leeuwyfie
Gemsbokke by ‘n watergat
Indrukwekkende leeu mannetjie

Boom karkas
Mufasa naby Kij Kij

Kij Kij se slapende leeu
Daai boom van die Kgalagadi

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *