2024 Kgalagadi – Dag 9

Somer in die Kgalagadi!

Leeus by Bitterpan!

Sondag – 21 Januarie 2024

Dit was weer ‘n wildernis kamp, dus geen slaappilletjie… Die gevolg was dat heelwat naggeluide gesorg het vir ‘n rustelose nag… Maar geen leeus wat gebrul het, of uile se hoot-hoot nie. Dit was meer die geritsel van jakkalsies en ander kleinerige diertjies.

Met die inkruipslag was dit nog redelik warm, maar dit het later so afgekoel dat ek onder die laken ingeklim het. Kort voor 5h het ons beurte gemaak om badkamer toe te gaan. Dit was nog donker, so ons het om die deure geloer en op en af in die gangetjie om seker te maak dat geen katvoet-besoekers ons ingewag het nie.

Ons was skaars terug in die bed, toe die bure se wekker lui. Hulle moes terug Mata-Mata toe en nog deur die grens in Namibia na iewers. Ek het maar gelê en luister hoe hulle tasse aandra en bagasie in die huur-bakkie inpak… en pad vat.

Koffie-maak-tyd het Christoff begin karring aan die klein gasstofie en toe ek uitkyk buitentoe, is daar ‘n leeu by die watergat! Hy was gelukkig meer gepla met die goggatjies op die water, as wat hy aandag aan ons gegee het.

Speel-speel met die water, soos ‘n huiskat

Terwyl die leeu se aandag op die watergat was, het ons vinnig die omgewing bekyk… en gewaar toe die tweede leeu wat ons dophou…

Geen twyfel dat ons gewaar was nie

Ons het bespiegel of ons die ander huisie se mense moes probeer wakker maak, maar nadat daai tweede leeu BAIE duidelik ons gewaar het, het ons ons bewegings en geluide beperk.

Daar was egter iets wat die leeus se aandag getrek het, aan die anderkant van die kamp – aan die slapende bure se kant.

Jong mannetjie kyk op – en wys vir ons sy jong-leeu-maanhare

Die tweede leeu het by die eerste een kom aansluit om water te drink, maar het steeds onrustig bly rondkyk na die duine rondom die pan. Die een was duidelik ‘n mannetjie, maar ons was nie seker oor die tweede een nie.

Drink, maar hou ook die omgewing dop

Hulle het bietjie water gedrink en begin aan beweeg – hulle was nie van plan om by die watergat rond te hang nie. Ek kon nie dink dat dit die leeus se onrustigheid as gevolg van die mense was nie… Daar was beslis ander leeus in die omgewing, te oordeel aan die troppie leeus wat ons die vorige dag teëgekom het.

Die jong mannetjie het eerste op beweeg na die noordooste kant van die kamp om langs die huisies verby te gaan. Hy het by die heining (braaier) op die punt vasgesteek en teruggekyk, maar toe verder gestap.

Laat mens voel die heining is bietjie laag…

Die tweede leeu het in die eerste een se spore gevolg en ons het dit gewaag om met die gangetjie na die ander kamers toe te loop en te kyk of ons nog ‘n laaste foto kon neem… maar buiten vir die spore reg langs die huisie af, was die leeus glad nie meer in sig nie… Ses minute van die eerste foto tot die laaste een. As ons net bietjie later gelê het, het ons hulle gemis.

Die ander mense het ‘n paar tellings later wakker geword en uitgekom oppad badkamer toe, baie verbaas dat ons daar by hulle kamers rondgehang het. Toe hulle uitvind wat die rede was, was hulle baie ongelukkig omdat ons hulle nie wakker gemaak het nie… Kyk, die keuse om die bure te laat deel in die waarneming van ons leeu-besoekers, teenoor een van daai leeus wat besluit om oor die lae heiningtjie te spring en te kom kyk wie maak lawaai, is nie regtig ‘n keuse nie. Leeus een, mede-kampers nul.

Aangesien ek ingery het Bitterpan toe, was dit Christoff se beurt om die pad terug Nossob toe aan te pak en omdat ons nie weer Mata-Mata toe sou gaan nie, het ons die uitdraai Moravet toe gevat, wat ons halfpad in die boonste duinepad sou besorg.

Wegdraai na Moravet

Daar was ‘n paar valkies in die boomtoppe, maar ek het ook Christoff ‘n keer of wat laat stop om van die lieflike grasse af te neem.

Valkies in die vroegoggend lug
Blinkaar boesmangras (duinriet) se pragtige pluime

Die pad bring mens met so draai om die Moravet watergat, terug in die boonste duinepad… Daar was egter geen lewe by die watergat nie. Eland watergat was ook verlate, met geen teken van lewe tussenin nie. Kort voor die aansluiting in die Nossob, was daar ‘n paar rooihartbeeste, met kleintjies.

Die kleintjies was eers weggesteek agter die volwassenes, maar die nuuskierigheid het natuurlik oorgeneem by een van hulle.

Nuuskierige rooihartbesie

By Dikbaardskolk stop ons sommer by die eerste piekniekplek. Ons was nog besig om ons eetgoed uit te pak, toe die man van die aangrensende staanplek aangestap kom. Hy wou ons maar net inlig dat daar ‘n pofadder, in die holte van ons skadu-gewer se stam, lêplek gekry het. Sy flits is ingespan om te bevestig dat dit wel die geval was… En o ja, die struike by die boonste piekniekplek, huisves ook ‘n pofadder. Hulle is blykbaar al ‘n paar dae daar…

Dis ook maar goed ek het dit nie ‘n paar dae gelede geweet, toe ek so lekker op my stert gaan sit het, kort voor daai einste struik, om die duwweltjie-blommetjies af te neem nie. Daardie foto sou nooit geneem gewees het nie… En waar ons nou gestaan het, het ek maar net gesorg dat die tafeltjie tussen my en die boom bly…

Daar was ‘n hele klomp gemsbokke by Dikbaardskolk se watergat. Cheleka was leeg, buiten vir ‘n volstruispaar met kleintjies, in die verte. Kaspersdraai was ook verlate.

Ons ry meestal die draai na Marie se Gat toe en hierdie keer was nie ‘n uitsondering nie. By die watergat was ‘n paar gemsbokke aan die wei en drink in die staan-water, tussen die wit skoenlappers deur.

Gemsbokke by Marie se Gat

Nadat ons die leeuwyfie uit die duin sien kom het in 2018 (sien Dag 4 vir die besondere fotos), kan ek nie help om net die duine oorkant die watergat ook deur te kyk nie. Ons het met die aankom-slag wel die oorkantste duin bekyk, maar die gemsbokke by die watergat was heeltemal te rustig vir enige roofdiere in die omgewing.

Met die wegtrek loer ek egter by die venster uit en siedaar! ‘n Leeuwyfie het agter ons verbygestap en was oppad teen die duin uit. As ek ‘n minuut langer op die gemsbokke gefokus het, het ons haar gemis… maar die gemsbokke was blykbaar ook nie gepla deur haar teenwoordigheid nie.

Leeuwyfie wat agter ons verbygestap het

Ons het probeer kyk of ons ‘n beter foto van haar kon kry, maar die struike langs die pad was net te hoog. Ons het vorentoe gery en dan weer agteruit gery, vir ‘n moontlike beter plek om deur te korrel. Buiten dat sy agter die plantegroei langs die pad was, was sy seker ‘n goeie 40m van die pad af, maar sy het ook geweet ons is op soek na haar.

Beste wat ek kon doen om haar weer af te neem

Ons gekorrel deur die struike, het ‘n VW bussie langs ons laat stop, om uit te vind wat ons sien. Hy was hoër as Winston en het dalk ‘n beter kans gehad om die wyfie te siene te kry. Die bussie was nogal iets om te sien, met die kamoeflering-patroon geverf, en die man agter die stuurwiel ‘n karakter. Ons het hom sommer “Shaggy the Van Man” gedoop. Hy het vir 10 dae op sy eie in die Kgalagadi kom rondkuier. Sy vorige besoek was ‘n maand! Hoe jaloers was ons!?

Ons het by Rooikop ingery, maar daar was nie wild by die watergat nie. Daar was wel ‘n edelvalkie op ‘n tak.

Edelvalkie by Rooikop

Die personeel by Nossob was baie gaaf. Hulle het ons toegelaat om vroeër ons intrek te neem. Ons het onsself bederf met ‘n nag in die Nossob rivier huisies en ons s’n was gelukkig reeds beskikbaar. Ons het Winston bietjie weer onder die afdak ingetrek en gaan nesskrop in die huisie… Gelukkig neem dit nie baie lank nie, so ons kon redelik vinnig gaan omkeer vir ‘n middagslapie onder die heerlike koel lugversorging.

Nossob Rivier Chalet

Na ons middagslapie het ons vinnig ‘n draai by die winkel gaan maak. Ons het ‘n paar kledingstukke gaan ingee vir die wasgoed-diens wat die park aanbied en verduidelik dat ons dit twee dae later eers sal kom kry, aangesien ons die volgende nag in Gharagab gaan wees. Oppad uit die winkel, keer ‘n ander gas ons voor, wat die wasgoed-afhaal-verduideliking gehoor het. Hy vertel hoe ongelooflik sy ervaring by Gharagab was met ‘n leeuwyfie wat vir hom sit en kyk het terwyl hy sy kar gepak het om te ry. Die einste leeuwyfie het blykbaar die uitkyk-toring ook uitgeklim.

Dit het ons met groot opgewondenheid laat uitsien na die volgende ervaring wat ons ingewag het.

Maar eers het ons gaan uitspan in die koel huisie – wat ook DSTV het… en waarop kom ons af? DDP (Dricus Du Plessis) se geveg teen Strickland. Daar sit ons in die middel van die Kgalagadi en kyk UFC.

Nadat die geveg verby was, het ons ons intrek op die stoepie gaan neem en ons vuurtjie aangesteek, terwyl ‘n eensame jakkalsie in die rivierloop by die huisie kom rondsnuffel het.

Knetterende vuurtjie op die gesellige stoepie
Ons – en die Nossob

Buiten vir die jakkalsie, was daar geen ander sigbare lewe in die Nossob nie en ons het ons reggemaak vir ‘n vroeg-inkruip, voor ‘n langerige dag op die pad wat wag.

Hier is nog ‘n paar fotos van die dag:

Spelerige Bitterpan leeu
Bitterpan leeumannetjie
Beide Bitterpan leeus aan die drink
Bitterpan leeumannetjie oppad na die kant van die huisies
Bitterpan leeumannetjie in die son wat opkom
Gemsbokke en skoenlappers by Marie se Gat
Rooikop se edelvalkie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *