Die Noordkaap Verkenningsveldtog!
In die Richtersveld na Gannakouriep
Woensdag – 22 Maart 2023
Na ‘n onrustige nag het selfs ek later as normaal geslaap. Die enkelbed matrasse in die huisie het met elke draai in die nag, die res van die huisie laat weet daar was beweging gewees. Met die gevolg dat ons rondom halfsewe eers ons eerste beker koffie op die stoepie gaan drink het, terwyl dit stadig om ons begin lig raak het.
Ons het weer ons beurte deur die stort gemaak en opgepak. Dit het al hoe vinniger begin gaan, soos ons gesout geraak het met die inpak, inlaai en uitlaai en uitpak. Ons het teruggery ontvangs toe om die sleutel te gaan ingee en net vinnig navraag gedoen oor hoe dinge by Gannakouriep sou verloop. Ons gasheer vir die nag was toevallig juis by ontvangs en een van die ander personeel was op die punt om hom deur te vat soontoe.
Gannakouriep is so 60km van Sendelingsdrift af, maar dis nie ‘n pad wat mens wil afjaag nie – al is daar plekke waar jy sou kon jaag. Vir ons eerste keer in die Richtersveld, was ons nie van plan om haastig te wees nie.
Halfagt was ons by die “motorhawe” om Winston se halwe pensie vol te maak – vir die wis en die onwis – maar beland toe nog voor dooie-mans-deur. Die dame aan diens het ‘n rukkie later aangestap gekom, maar moes eers sleutels by ontvangs gaan haal. Die “motorhawe” maak eers agtuur oop.
Kort voor lank was ons egter geholpe, terwyl ek tussendeur uitgevis het of die myn op die terrein nie hulle toerisme beïnvloed het nie… Wat toe wel die geval is… Gelukkig het ons ook kontant gehad om vir die brandstof te betaal, want danksy Eskom het die krag afgegaan net toe ons wou betaal, wat die kaartmasjientjie buite werking gelaat het.
So laat ons die kamp agter en ry amptelik die Richtersveld in. Na die eerste paar kilometer het ons gelukkig ook die myners agtergelaat en begin opmerk hoe anders hierdie wêreld is. Die skadu-berge het swart stroke in, wat blykbaar is as gevolg van ander chemiese samestelling van die grondsteen.
‘n Halfuur later het ons die bord gesien wat die Hand of God aangedui het en ons moes natuurlik eers vinnig daar inry om te gaan kyk hoe dit lyk.
Skaars 5 minute later moes Christoff weer stop, sodat ek kon kyk of ek Winston saam met ‘n halfmens-boom in dieselfde foto kon kry. Ongelukkig was die halfmens-boom bo teen die koppie en Winston onder op die grond.
En 15 minute later was ons in die Akkedispas… Winston het bewys hy kon maar ‘n akkedis ook gewees het en Christoff het minimaal nodig gehad om die kort stokkie (4×4) in te span.
En iewers naby die einde van die Akkedispas, het ons ‘n besondere halfmens-boom naby die pad gekry.
Die son het die wolke van redelik swaar bewolk verander in hoogdrywende miswolke. Dit het die manier hoe die omgewing voor ons oopgevou het, aansienlik verander. Soos mens uitry uit Akkedispas uit, rol daar skielik weer ‘n tapyt van dor vlakte voor mens uit, met bergreeks op bergreeks wat kilometers weg wink.
En as jy terugkyk ‘n paar kilometer verder, was die wolk-kombers nog besig om oor die akkedispas se katelrand te peul.
‘n Halfuur later het ons die eerste rantjies van die volgende berge weer bereik. Dit was rondom 10h en ons het besluit dis ‘n goeie tyd om ‘n keteltjie aan die gang te kry en ‘n beskuitjie te nuttig.
Tot op daardie punt in tyd het ons geen ander lewende siel gesien, sedert ons uit Sendelingsdrift se kamp weggery het nie. Daar was ook geen selfoon opvangs nie. Dit was net ons en die wydtheid van die Richtersveld… Of so het ons gedink.
Ek het skaars met my beker koffie in my hand gestaan, of daar verskyn ‘n kop en skouers bo die oorkantste rantjie… en voor die jongman vollyf in sig was, het sy twee brakke al snuffelend na ons toe aangehardloop gekom. Hy het aan die oorkant van die grondpad gestaan, gegroet en gevra of ons hulp nodig het en net aangestap, sonder om enigsins sy ritme te breek. Die een hond wou nog bietjie rondhang, maar sy sagte skril fluitjie was gehoorsaam en die hond het agter sy baas weer oor ‘n ander rantjie verdwyn.
Ek en Christoff was redelik sprakeloos oor waar die knaap vandaan gekom het en waarheen hy oppad was, maar duidelik het hy geweet.
Net agter die rantjies waar ons gestop het, het die pad ons in ‘n smaller vlakte tussen die voetheuwels laat inry.
Soos wat ons aangery het, het die kontras tussen die blou lug, die spelende wolk-slierte en die dor omgewing mens net verstom, sprakeloos gelaat.
Ons het kort voor 12h Gannakouriep se kamp ingery en gaan aanklop waar die Sanparke voertuig was. Ons gasheer was daar en het ons teruggestuur in die rigting van huisie nommer 2.
Ons het uitgelaai en uitgepak wat nodig was. Ons gasheer het verbygekom en kom hoor of “sy ma en pa” reg is en of ons iets nodig het, maar ons was rustig en tevrede, met die dag se verkenning agter die rug. Nou kon ons bietjie langbeen ontspan en die stilte indrink… met ‘n koue enetjie.
Die vorige middag was daar voëtjies in die bome voor die huisie wat eers stil geraak het toe die son gesak het… en nou en dan ‘n mynvoertuig se ge-biep-biep… Vandag was daar NIKS. Dit was doodse stilte. Daar was nie eers blare wat in die wind kon ritsel nie.
Toe die son bietjie minder water getrek het, het Christoff die vuurtjie begin aanpak en ek het die slaaigoed nader getrek… en ons het ons eerste nag diep in die Richtersveld met ietsie spesiaal gevier.
En soos die dag gevorder het, het die wind ons weer ingehaal by Gannakouriep en het die wolke saamgedra in die binneland in.
Ons het die kamp yskassie op die huisie se yskas ingeprop, want daar was nie ander kragproppe in die huisie nie. Met die gevolg kon ons nie enige oorskiet kos in die yskas los vir die jongman wat ons opgepas het nie. Ons het toe maar ‘n bord kos vir hom uitgeskep en Christoff het die paar tree na sy huisie toe gestap en hom gaan opklop.
Die gebrek aan kragproppe was so bietjie van ‘n probleem vir my, want ek het beplan om die volgende oggend hare te was… maar wat, dit kon nog ‘n dag wag… veral omdat ons die volgende dag ‘n lang pad voor ons gehad het en dit sou tyd spaar dat ons in die pad kon val.
Uitsig by die kombuis venster uit… en ‘n paar uur later van die stoepie afMaar, soos die son gesak het, was môre se skedule vergete en ons het ons net oorgegee aan die donkerte wat in stilte oor die omgewing begin kruip het.
Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.