2023 Noordkaap – Dag 6

Uit die Richtersveld na Augrabies

Donderdag – 23 Maart 2023

Die stilte van die nag was amper tasbaar. Daar was nie diertjies wat geroep het nie, maar daar was wel snuffelaars wat ons asblik iewers in die nag omgegooi het. Gelukkig was daar nie veel of skadelike goed om te aas nie.

Ek was weer voor Christoff wakker, maar het besluit om eerder die ketel aan die gang te kry, as om hom te lank te los. Ons het ‘n redelike stuk pad voor ons gehad vir die dag. Met die lig aan in die kombuis en my gekarring by die gasstoof, was dit nie lank voor Christoff by my oorgevat het nie.

Ons het so tussen die koffie deur sommer begin inpak, min wetend dat dit ons enigste koppie koffie vir die dag sou wees. Om tyd te spaar, het ons besluit om sommer die stort ook uit te stel tot by Augrabies. Dit was ‘n goeie besluit, want toe ek ‘n laaste draai loop voor ons gaan inklim, gewaar ek ‘n sandkleurige skerpioentjie vasgekeer in die stort. Die lyf was seker so duim lank, sonder die stert… En toe ek later weer kyk, kon ek die outjie nie gewaar nie. Hy sou dalk een van ons onkant gevang het, as ons wel gaan stort het.

Ons het ons gasheer gaan wakker klop, net om te groet en toe vat ons pad. Die plan was om die ongeveer 40km hek toe in so 90 minute te doen, sodat ons die beplande 646 km rustiger kon vat en vir onsself bietjie tyd by Augrabies te maak… Wel, dit was die plan.

Sonder selfoon opvangs, was ons gewapen met die Sanparke kaart… en ‘n gewillige Winston. Ongelukkig, as jy die bakens op die kaart en die langs die pad verkeerd lees, dan veroorsaak jy verdwaalpaaie.

Verdwaalpad in die Richtersveld

Die South Africa pin onder die kamp, is waar die GPS se pad opgehou het… ons het nog ‘n entjie ondertoe gery, totdat ons op ‘n stadium moes toegee ons is nie meer op enige pad nie. Dit was iewers in ‘n droë rivierloop.

Ons het maar omgedraai en ons spore terug gevolg. Ek het die GPS aan die gang probeer kry, maar dit was duidelik ons was nie op enige gedokumenteerde pad nie. Rondom waar die pin is, is waar die GPS ons ook weer opgetel het… Terug by die bordjies naby die kamp, het ons tussen die kaart en die GPS weer ons pad gevind.

Rooi sandstrook na die berge

Voor ons by die pas gekom het, was daar ‘n strook rooierige sand wat die aanloop na die berge toe uitgekloof het. Daar was ‘n paar lieflike plekke deur die Helskloof pas en die uitsig van bo af was die moeite werd om voor te stop om ‘n foto te neem.

Uitsig van die Helskloofpas

So arriveer ons eers halfelf by die hek en ‘n William wat met ‘n breë glimlag wil hoor hoe ons hulle wêreld ervaar het. Ons het vinnig praatjies gemaak en terwyl ek badkamer toe gedraf het, het Christoff by hom gehoor of daar ‘n kortpad was as ons Augrabies se koers toe moes gaan… Hy’t voorgestel ons ry Eksteenfontein om.

Christoff het die GPS beetgepak en begin soek na Eksteenfontein en ek het agter die stuurwiel ingeklim. Dit was ‘n oop grondpad voor my, mooi wye paaie… maar so erg sinkplaat op plekke, dat ek Winston se 4×4 High gebruik het, net om nie my tande los te skud nie.

Maar selfs so met die sinkplaatpad saam, was daar steeds mooi tonele en het die Richtersveld vir ‘n windpomp-foto saam met Winston gesorg.

Winston se eerste Windpomp foto

Ons kon ‘n redelike spoed op die grondpad handhaaf, maar kort voor ons Eskteenfontein ingery het, was daar weer ‘n deel van die pad waar die 4×4 Low Range aangewend moes word.

Ons het rondom een uur in die dorpie ingery. Eksteenfontein is ‘n klein dorpie. Ons het egter net lank genoeg gestop om seker te maak ons vat die regte pad uit die dorpie uit. Daar was nog ‘n paar honderd kilometer om te gaan en Winston is nie haastig nie.

Na Eksteenfontein het die grondpad ook beter geraak en ‘n bakkie of twee het ons verbygevat, voor ons 40km buite Steinkopf op teerpad geklim het. Van Steinkopf af was ons op die N7 tot op Springbok. Dit was minder inspannend, maar beslis nie Winston se forte nie.

Springbok se stop was ook net lank genoeg om Winston se maag vol te maak, voor ons weer pad gevat het. Die wind wat ons saamgesleep het Richtersveld toe, het ons weer op die N14 gevang oppad Aggeneys toe, wat gemaak het dat Winston gesukkel het om by 120km ‘n uur uit te kom. Die wind het gepaard gegaan met swaar reën.

Kort voor Pofadder het ek besef ons gaan nie binne normale werkstyd by Augrabies arriveer nie. So begin ek nommers soek om uit te vind tot hoe laat ons kan aanmeld en wat gaan gebeur as ons laat is.

Google se nommers vir Augrabies is nie reg nie, maar ek het gelukkig die regte nommers op die Sanparke webblad gekry… en was nog meer verlig toe ek hoor hulle ontvangs is oop tot halfsewe.

Teen die tyd wat ons by Pofadder ingery het, was dit amper skemer so swaar was die wolke nog. Ek het vinnig iets vir ons magies gekry, terwyl Christoff weer Winston se dors geles het…

Kort voor Kakamas, met Winston wat stoei teen die wind, was daar ‘n grondpad wat links afgedraai het van die N14 af, wat die draai deur Kakamas kon uitsny… So toe vat ons dit… En Winston hardloop die 17km grondpad sommer vinnig-vinnig kaf.

Soos die dag se roete uitgedraai het

Halfses ry ons by Augrabies in. Die staf was baie vriendelik en binne ‘n paar minute was ons oppad na die Oranjekom Gorge Cottage toe. Hulle kon dit maar Gorgeous Gottage genoem het, want met die uitsig wat ons van die stoep af begroet het, sou dit nie ‘n leun gewees het nie.

Die uitsig wat jou begroet by die Gorge Cottage

Die eerste prioriteit – na die afpak – was om die vuur aan die gang te kry. En met ‘n glasie geskink, kon ons rustig raak… Ons het die Richtersveld se stilte verruil vir die gedruis van die Oranje rivier.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *