Kruis & Dwars deur die Kgalagadi! Rondte 2
Breëkop arend en bakkie probleme
Vrydag – 2016/09/23
Vrydag het nie heeltemal volgens plan verloop nie. Ons wou suid uit toe die hek oopmaak en dan die boonste duinepad ry Kamqua toe… Maar, kom ons begin by die begin.
Die leeus het basies deur die nag geselsies gemaak. Die laaste brul was omtrent halfses nog hoorbaar, toe ek teruggestap het van die badkamers af… So, ons was betyds op om saam met ‘n paar ander mense in die tou te val by ontvangs.
Tydens die toustanery moes ons aanhoor hoe ons die vorige paar dae die leeu welpies en jong cheetahs elke keer net moes gemis het. Hulle was letterlik op dieselfde paaie as waar ons was, maar ons was net te laat daar verby… of net te vroeg… Maar toe ons hoor die gelukkige-besoekers kies koers in dieselfde rigting as wat ons vir die dag beplan het, was ons sommer optimisties oor ons dag… Ongelukkig toe nou nie.
Kort na ons uitgery het, het ek ‘n leeu mannetjie in die verte sien wegstap oor die duin en toe verdwyn… Hy was egter net te ver om af te neem, maar was waarskynlik een van die nag se kommunikasie-span.
Om die volgende draai het ons 3 spotted hiënas in die rivierloop gesien. Hulle het ‘n ent langs die voertuie gedraf en toe rigting verander, weg van die pad af , net om later om ‘n draai verdwyn.
Marie se Gat het geen tekens van lewe gehad nie, so die paar voertuie het verder gery… Net om ‘n ent verder vas te steek by ‘n breëkop arend, wat heel koninklik die wêreld sit en bekyk het vanuit ‘n dooie boom…
Ons het bietjie vertoef om ‘n paar fotos van die roofvoël te neem en daarna weer met die ander voertuie probeer opvang… Maar toe begin ons sports.
Die bakkie het begin stoom uitblaas by die enginkap… en so moes Christoff WEER langs die pad uit die bakkie klim om die oorsaak van die probleem te probeer identifiseer… En ek het maar weer probeer brandwag speel om te kyk of enige gevaarlike diere hulle opwagting maak.
Daar het ‘n ouerige Britse paar by ons gestop om te hoor of alles reg is en gesê hulle sal weer op ons inloer wanneer hulle terugkom van hulle oggendrit af.
Ons het maar omgedraai en net ‘n entjie verder gery toe begin die bakkie se temperatuur klim. Na ‘n paar botteltjies water in die verkoeler in verdwyn het, het ons stadig maar seker ons pad teruggevind Nossob toe. Geen fokus op enige dierelewe langs die pad nie. Ons het net die temperatuur en volume stoom dopgehou.
Die oorsaak dat Escapé amper in ‘n stoomtrein ontaard het, was toe een hegpunt van die verkoeler wat uit die bakwerk se hak geskeur het.
Die park se tegnikus (en nagkar-ryer) het tot ons redding gekom met Pratley se betroubare Quick Set Clear… Christoff het sy ding gedoen en ons het rustig geraak in die kamp om seker te maak die gom plak en stol behoorlik… En ‘n voertuig wat se enginkap oop staan is ‘n trekkrag vir manne om te kom gesels…
Terwyl die manne besig was by Escapé het ek vir ‘n verandering vir ons ‘n brunch aanmekaar begin slaan en my verstom aan die aasdiertjie wat heel mak nader gekom het. Daar is heelwat grond-mongoose tipe karakters in die park, maar die outjie sou iets uit my hand uit kom haal het, as ek aangebied het.
Kort voor lank het die Britse paar ook kom inloer om te hoor of ons darem reggekom het. Dit was sommer ‘n groet-inloer, want hulle was oppad Bitterpan toe, waar hulle vir 2 dae sou wees… Die dag wat hulle vertrek van Bitterpan af, was die dag wat ons sou arriveer! Wel, as die bakkie die duine kon aandurf… Ons het dus styf duime gehou dat die Pratley sy werk doen, sodat ons wel die pad Bitterpan toe kon aandurf.
Met vol magies het ons gaan omkeer en na ‘n warm middagslapie het ons bietjie onder die tent se afdakkie gaan sit en die kamp bekyk.
Skuins oorkant ons was ‘n Afrikaanse egpaar, sterk in hulle sewentigs, wat besig was om kos te maak. Dit was egter komieklik hoe die spreeus en die grond-eekhorings hulle verpes het. As die oom sy rug draai, was die spreeus op die rand van die braaipan. As die tannie die eekhorings verwilder, kom sit die spreeus op haar stoel se ruglening… En so was dit ‘n wisselwerking tussen die vier snuffelende en bedelende eekhorings en die spreeus wat in en uit die potte en bakke fladder, afhangend van watter arms geswaai word.
Om te help met die afkoel-proses, het ons tevergeefs gaan roomys soek by die winkeltjie… Toe gaan ry ons maar ‘n draai, net om seker te maak Escapé is weer 100%… Toe word daar sommer deurgery tot by Dikbaardskolk se piekniekplek en terug. Langs die pad was daar ‘n klomp Pietertjies, volstruise, gemsbokke, springbokke, blou wilde buffels* en darem hierdie keer 2 elande.
*Kom ek verduidelik dalk net die blou wilde buffels ook… As ek ‘n blou wildebees sien, dan wil ek die ding net ‘n buffel roep. Om een of ander rede assosieer ek nou maar net ‘n wildebees met ‘n buffel. So daar word gereeld van blou wilde buffels ook gepraat.
Die elande was by Marie se Gat. Dit was opvallend hoe groot die Kgalagadi elande is, veral toe een so langs ‘n gemsbok gaan staan. As die gemsbok sy kop laat sak het, kon hy amper onderdeur die eland loop.
Naby Kaspersdraai was daar ‘n mooi volstruis naby die pad en by die watergat vang ons toe ‘n lekker vetpens gemsbok, besig om aan ‘n been te knaag. Ons vermoede was dat sy dragtig was en die been-kouery het ekstra kalsium verskaf, wat sy dalk nodig gehad het vir daai groeiende pens.
Terug in die kamp was ons net rustig. Ons het weer die TV aangesteek en gesellig gesit en heel verlig gekuier in die wete dat ons wiele reg was vir die vooruitsig van Bitterpan se duine, terwyl die vleis sis op die vuur en die groente borrel in die pot.
Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.