Die eerste onvergeetlike Kgalagadi besoek!
Springbokkie geboorte en die stand-off by Vaalpan
Maandag – 2015/09/28
Ons was vroeg-vroeg op en het met ons propvol, vuurwarm koffiebekers en ‘n bak beskuit in die skuiling gaan sit om te kyk hoe die Afrika-son oor die Kalahari-duine opkom… En ons was weer beloon met ‘n pragtige lugvertoning.
Na ‘n vinnige tandeskrop het ons in die pad geval terug Kamqua se kant toe. Vandag het ons besluit om die gasbraaier by die tent te los en sommer net ‘n broodjie te maak, wat meer tyd vir rondry sou los.
By Sitsas se watergat het ons ‘n gemsbok teëgekom met ‘n misvormde horing, maar met misvormde horing en al was meneer jakkals maar skrikkerig om met sy “hyde” te naby te kom.
Verder aan het ons weer ‘n gompou teëgekom. Die keer was die voël so geposisioneer dat mens dit kon afneem om ‘n idee van die grootte te kry. Volgens Oupa Ampie is ‘n gompou die grootste vlieënde voël.
Ons was ook gelukkig om naby genoeg aan ‘n roof arend (aka Tawny Eagle) verby te gaan, sodat die 300mm lens darem ook ‘n redelike foto kon inkry.
Soos ons tussen die Veertiende en Dertiende Boorgate se watergate verbygery het, sien ons die een groepie baba springbokkies op die volgende… Party lê nog in die gras en ander het reeds hulle beentjies ontdek. Dit was te kostelik om te sien hoe van die bokkies borrelend rondhardloop met wye draaie om al die mammas, wat ‘n ogie moet hou.
En daar, net verby die Dertiende Boorgat se watergat, sien ons ‘n springbokkie wat lê, met ‘n koppie en beentjies van ‘n baba-bokkie wat in proses is om gebore te word…
Net ‘n dag tevore het ons gesien hoe ‘n bokkie sy lewe verloor het aan die groot jagters van die Kgalagadi en vanoggend kan ons sien hoe ‘n nuwe bokkie die wêreld inkom. Dit het nie dieselfde adrenalien-golfvloed teweeg gebring nie, maar hierdie ervaring het mens met ‘n warm gevoel om jou hart gelos… Tot jy weer skielik benoud raak vir die baba bokkie se onthalwe, as die mamma bok verdwyn en dit alleen in die sporadiese graspolle bly lê… Ek het gehoop dit was om die bokkie te kry om regop te kom, maar ek wou nie wag om te kyk of dit dalk was omdat daar gevaar iewers geskuil het nie… Ek het die manne maar aangepor dat ons kon verder ry.
Voor ons by Kamqua se piekniekplek aangekom het, het ons ‘n eensame kameelperd gekry, wat rustig oppad was iewers heen.
By Kamqua het ons weer dieselfde boom betrek en vinnig vir ons elkeen ‘n broodjie aanmekaar geslaan. Die plan was om verby Vaalpan, Morevet en Eland watergate te ry tot by Dikbaardskolk se piekniekplek – hopelik voor ons blase of hongerpyne ons begin pla… Maar toe gebeur dit nie so nie.
By die eerste watergat – Vaalpan – sien Christoff ‘n leeu se profiel onder die boom in die koelte lê, met ‘n paar gemsbokke wat in die omgewing rondstaan.
Na ‘n rukkie het die leeus begin rondskuif in die koelte en toe besef ons daar is drie leeus. Een wyfie en twee blonde-maanhaar-mannetjies.
Soos die gemsbokke om die watergat rond maal, so hou die leeus hulle dop, maar wend geen poging aan om een te probeer plattrek nie… En terwyl die leeus en die gemsbokke mekaar meet, kom die klein jakkalsies en kom drink versigtig water. Die outjie het mooi geweet die leeus is in die omgewing, maar het duidelik besef die groot katte gaan nie die moeite doen om hom te skraap, as daar lieflike gemsbokke naby is nie.
Nie dat hulle gepla is deur die leeus nie, wel, waarskynlik nie, maar daar was ‘n swartkopreier of drie wat ook rustig die watergat benut het, terwyl die leeu-en-gemsbok-sage afgespeel het.
So begin die gemsbokke se metery en die uitdaging van die leeus om tot enige vorm van aksie oor te gaan.
Eers het twee van die groter gemsbok-bulle mekaar gepak en toe die wenner wegloop van die skermutseling, begin hy die leeus tart.
Eers word daar agter hulle verbygeloop, maar al wat hy kry is die koppe wat lig… Toe word daar agter om die bome gestap, met ‘n uitdagende snork-snork soos hy weer nader aan hulle kom aan die pad se kant, met net die watergat tussen hulle.
Maar al beweging wat uit die leeus uitkom, is ‘n sporadiese lyf-skuif om in die koelte te bly… Die leeuwyfie het darem op ‘n stadium om die watertenk gestap om te kyk wat maak die gemsbokke… en ‘n ander keer gaan water drink, maar buiten vir dit, was dit ‘n leeglêery van formaat… En so het ons hulle gelos, vier ure later, toe ons blase te veel begin pla het.
Terug by Kamqua het ons ‘n draai geloop en weer ‘n paar happies brood gevat. Ons was dit eens dat die lywe genoeg hitte verduur het, so ons het besluit om nie terug te gaan om te gaan kyk of daar dalk later iets sou gebeur nie. So rits ons toe maar terug kamp toe… en die enigste lewe langs die pad was ‘n paar springbok kleuterskole in die koelte naby die watergate.
Skaars terug by die kamp, word ons nader aan die draad gelok deur groepies mense wat met lang lense die rant van die duin bekyk… Ons ou 300mm lensie was nie juis sterk genoeg nie, maar ons kon darem sien waarna gekyk word.
Die vorige dag se ervaring is weer teruggeroep tot bespreking en ons moes baie vinnig weer die vol SD kaart terugdruk in die kamera, dat Christoff die vorige dag se gebeure – met bewyse – kon weergee… En die perfekte fokus met die aanloop-foto, net voor die bokkie besef het wat is op hom, het menige opmerkings van “Lucky Christoff” uitgelok.
Ons het weer ‘n vuurtjie gemaak en rustig gebraai. Na ete was ons oppad om te gaan tande borsel, toe ons hoor daar is leeus buite… So stap ons haastig oor skuiling toe en gaan hou die watergat dop. Ons het skaars gaan sit, of die skuiling was vol mense, met nog ‘n klomp wat teen die heining gaan sit het…
Net toe stap daar ‘n leeuwyfie en twee mannetjies uit die bosse die rivierloop in. Die oomblik toe die een mannetjie nader aan die wyfie beweeg, is daar ‘n gegrom van die ander mannetjie af… En voor hulle nog by die watergat kom, stap die groot meneer uit die bosse uit. Hy het rustig aangestap gekom en gaan sak om water te drink… Met die drinkslag, kom die afgejakte mannetjie nader en snuif aan die ou manhaar en word vir die tweede keer afgejak.
Die jongman se ego was duidelik broos na die episode en hy besluit toe om sy aandag op iets anders te fokus… en wat anders was daar, as die klomp mense aan die anderkant van die heining… en natuurlik, binne in die skuiling.
‘n Gedeelte van die ervaring is deur een van die skuiling se mense vasgevang en op Youtube gesit… So loer gerus daarna by hierdie skakel.
Die volgende paar minute het soos ‘n leeftyd gevoel, terwyl ons almal doodstil in die skuiling gesit het… Die leeu mannetjie het stadig na die heining toe begin aankom en toe rigting verander en voor die skuiling kom verbystap, met sy oë deurentyd in die donker, van waar tientalle benoude oë hom beloer het. Van die kinders het onder die bankies ingekruip, te bang dat die mannetjie dalk ‘n kans sou vat en deur die opening van die skuiling sou probeer spring.
Soos hy nader gekom het, het gefluisterde raad ons ore bereik, waarvan die duidelikste seker was dat mens net in sy oë moet skyn met ons flitse, die oomblik as hy te naby kom en ons bedreig voel… Op daardie stadium het ek lankal bedreig gevoel en gewonder wat gaan ons regtig maak as daai meneertjie sou besluit om aandete van ons te maak… Ek dink ek sou op Christoff se skoot geklim het op daai stadium, as ek kon.
Ons almal het vasgenael die leeu dopgehou soos hy teen die heining begin opstap het. Hy was ‘n entjie langs die draad op voor die wyfie en ander jong mannetjie agter hom begin aanstap het… En toe verdwyn hulle uit sig uit, tussen die bome in, waar die rivier chalets is. Daar het skielik sprei ligte aangegaan by die chalets en toe kom die leeus teruggedraf in die rivierloop in.
Die maanhaar het hulle stadig gevolg. Daar was duidelik iets fout met sy een poot. Hy het so entjie van hulle af in die rivierloop gaan lê en kyk waarmee die ander drie besig was… Maar kort voor lank het hulle weer druipstert uit die skadus gekom en teruggestap watergat se kant toe. Hulle het ‘n paar slukke water kom vat en in die bosse oorkant die rivierloop verdwyn… Met die maanhaar wat iewers tussen sy lêplek en die watergat weer in die bosse verdwyn het.
Die oomblik was so gelaai, dat van ons nog vir ‘n hele ruk daar bly sit het, voor ons onsself kon wegkry om te gaan slaap… En in die paar tree badkamer en tent toe, kyk mens skielik met nuwe oë na die stewigheid van die heining en tent en wonder waar gaan jy wegkruip, as leeus wel op ‘n manier kon inkom…
Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.