2015 Kgalagadi – Dag 1

Die eerste onvergeetlike Kgalagadi besoek!

Donderdag – 2015/09/24

Ons is kort na 6h uit Centurion om Oupa Ampie in die Moot te gaan oplaai en die pad terug te vat N14 toe, vir die begin van ‘n amper-dag-se-ry na Kuruman. Daar’s eers by Mugg & Bean op die N14 gestop vir ‘n Serious Cappucino, net om seker te maak ons is wakker (ons was!… ons kon amper nie stilgesit kry nie!) en ons reg te ruk vir die pad wat voorlê… Maar voor die koffie klaar was, was die padkos-bakke nader getrek en kon ons begin smul aan ‘n verskeidenheid happies uit Oupa Ampie se padkosbak. Met die reuk van toebroodjies, frikkadelle en gekookte eiers wat die kajuit vul, het ons sommer ‘n goeie duik in die padkosvoorrade gemaak.

Die rit is halfeer met ‘n baie lekker kuiertjie anderkant Coligny saam met Petro en Riaan (my oom en tannie), sodat ons hulle onder oë kon kry, voor Riaan landuit is agter die Springbokke aan. Hulle het natuurlik ook vir ons ‘n padkos-piekniek ingepak en aangery van Lichtenburg af. In hulle mandjie was die lekkerste Ouma wors wat ons Pretorianers nog ooit gehad het…

Met vars uitgeruste boude, gestrekte bene en propvol magies het ons die pad verder aangedurf, deur die Noordwes na die Noordkaap… Sonder enige voorvalle… Tot net anderkant Vryburg… Escapé se gebrek aan spoedkontrole het ons ‘n aftrek op die hals gehaal met ‘n “haastige” 72km/h in ‘n 60km/h zone… Gelukkig het Oupa Ampie die plaaslike verkeersman oortuig dat ons dit nie met opset gedoen het nie en dat hy ons maar met ‘n waarskuwing kon laat gaan… En vir die rekord – daar het geen geld hande gewissel nie. Selfs die spietkop wou ons nie betaal om te ry nie. 😛

Ons was rondom 14h in Kuruman en het basies net oorgeklim van Escapé na Tannie Mara se Mercedes en weer die pad gevat. Die keer Danielskuil se kant toe, om die Wonderwerk grot en Wondergat te gaan besigtig. Ons was mos nou in die omgewing.

Grot griffels en ‘n spokerige stalagmiet in die Wonderwerk grot.

Die Wonderwerk grot is in proses om opgegrawe te word deur argeoloë, maar dis ‘n lekker dieperige grot met ‘n klomp stories om te vertel. Vir meer inligting oor die grot, loer gerus hier:  www.wonderwerkcave.com

Van die grot af het ons ‘n ent gery om by die ingang na die Wondergat te kom, of Boesmansgat – soos Tannie Mara en Oupa Ampie dit onthou. By die plaashond-omringde opstal aangekom, was daar geen mens in sig nie. Ons het amper opgegee, maar besluit toe gelukkig om ‘n draai op die werf te ry en te kyk of ons iemand sien.

Die iemand was toe plaaswerkers, wat ewe hulpvaardig die regte mense gaan roep het. Die jongman het ons in die regte rigting ingestuur en die pad na die Wondergat het ons beloon met ‘n paar groepies wild. Onder andere die eerste en enigste Zebras van ons trip

Wondergat

Die gat self was ‘n bietjie van ‘n teleurstelling en het nie bygekom by die glorie-gat van ouds, soos deur Oupa Ampie en Tannie Mara oorvertel is nie. Die gat het gedeeltelik toegeval na ‘n rotsstorting en met die klippe in die water het die alge begin oorneem…

Terug in Kuruman het ons langbeen en kaalvoet op Tannie Mara se lekker koel gras gaan uitstrek en watertand gewag tot haar kospotte reg was vir ons… Of dalk was dit eerder of ons reg was vir dit?

Ons pensies het gespan van al die lekker disse wat sy vir ons voorgesit het… Wildspastei, gekrummelde hoenderfillette, gebakte aartappels, pampoen en ‘n paar slaaie, opgetop met vrugteslaai en roomys… Wat ‘n feesmaal!

Nadat ons die kos bietjie afgestap het, met ‘n luilekker wandeling deur die aftree-oord, het ons vroegerig gaan inkruip vir ‘n heerlike nagrus… Dit was die vooraand van ons aankoms in die Kgalagadi!

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *