2015 Kgalagadi – Dag 7

Die eerste onvergeetlike Kgalagadi besoek!

Woensdag – 2015/09/30

En so breek ons laaste dag aan… Ons het laterig opgestaan, rustig elk twee bekers koffie gedrink, terwyl die oorskiet pap warm geword het. Ontbyt was oorskiet pap en wors… Dit was ‘n lekker koel oggend en ons moes maar ‘n baadjie nader trek toe ons na die duine gaan kyk het.

Die wit sandduin by Witsand
Oupa Ampie en Christoff – aan die einde van ‘n besonderse paar dae

Ons het die grondpad Olifantshoek toe aangepak en kort voor lank die dorpie ingery. Ons het vinnig EscapĂ© se dors geles, terwyl Oupa Ampie gaan biltong soek het – en gekry het… Sulke fyn gekerfde Kalahari biltong.

Die soektog na ‘n likkewaan, op die Olifantshoek-Deben-pad, is verruil vir die vinnige teerpad Kathu toe, sodat ons op die dorp kon gaan stop vir ‘n middagetetjie.

Met die inry in Kathu in, het ons sommer klaar terugverlang Kgalagadi toe… Die bedrywigheid van die myndorp en die gewoel van die mense in die winkelsentrum, was net een te veel na die rustigheid van die afgelope paar dae.

Ons het by die Wimpy vinnig ‘n broodjie gehap en toe deurgery Deben toe, waar ons Tannie Nellie en Oom Bill gaan vermaak het met al die stories van ons ervarings in die Kgalagadi.

Oom Bill se windpompe op Deben

Na ‘n heerlike middagslapie het ek Oom Bill se windpompe uit die ondertuin bekruip en hulle net nog ‘n keer, uit ‘n ander hoek, vasgevang.

Dit was ‘n koue aand in Deben. Waar ons so rondom die vuurtjie gesit het, het ons naderhand twee lae warmgoed oor die bolywe aangehad… Maar buite het ons gesit – en gekuier het ons gekuier.

Tussen die braaivleis en Tannie Nellie se vars roosterkoeke het ons weereens ‘n heerlike maaltyd weggepak en was ons kort voor lank in droomland.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *