2017 Izintaba

Herfs Ewening (Equinox) in die Bosveld

17-21 Maart 2017

Grasgroen bosveld

Ons jaar het met 110 goed afgeskop en tussen die drawwery (letterlik en figuurlik) deur moes ons net bietjie gaan asem skep in die bos… As ons ‘n alleen-wegloop doen vir ‘n naweek (of lang naweek), dan is dit gewoonlik die bosveld wat roep, want ons ander gunsteling plekke is net te ver.

Ons gaan nou al vir 3 jaar elke kort-kort Izintaba toe en het Zebra en Bushbuck al probeer… Maar vandat ons in Duiker gebly het, het dit ons eilandjie in die bosveld geraak vir die paar dae wat ons daar gaan kuier. Duiker is afgesonder van die ander huisies, met geen bure in sig nie… en soms, as jy gelukkig is, dan kom wei ‘n troppie bokke of kameelperde kort anderkant die eerste struike van die stoep af…

Uitsig van Duiker se stoep af

Wanneer ons ‘n draai met Escapé gaan ry het, was daar elke keer iets om te sien.

Ons was hierdie keer baie gelukkig met die kameelperde. ‘n Trop van 8 het ons ingewag nadat ons Duiker se sleutel gekry het en die kronkelpad dieper die wildplaas in gevat het.

Ons het op ‘n dooie slang afgekom, miskruiers wat lekker bolle gerol het en spekvet weiende bokke. Ons moes mooi kyk vir die bokke, want die veld was so ruig dat hulle ‘n paar treë van die pad af letterlik in die ruigte kon verdwyn.

Ons het ook baie op die stoep gesit en luister hoe die donderweer naderkom en weer wegdryf… hoe die vet reëndruppels op die grond rondom ons neerplof… hoe die wind deur die blare gesels… hoe die veld wakker word met ‘n verskeidenheid van voëls wat roep, of zebras en bobbejane wat blaf… Maar as daar geen natuurgeluide was nie, kon ons onsself net oorgee aan die stilte rondom ons – daardie stilte wat saam met die bloed deur jou are suis.

Ons het hierdie keer selfs gesien hoe ‘n koggelmander ‘n toktokkie bespring en verslind… Natuurlik terwyl die kameras op die agterste sitplek in die bakkie gewag het vir die volgende draai deur die veld.

Die eerste aand het ons die fout gemaak om die stoeplig aan te los, terwyl ons vuur gemaak het in die boma. Terwyl ons die vlamme bewonder het – en later die skitterende sterrehemel – het ‘n swetterjoel motte die stoepligte betrek… Die motte het wel deur die loop van die nag gesneuwel, soos hulle vlermuis kos geraak het.

Al was hierdie nie ons eerste besoek aan Izintaba nie, het ons egter vir die eerste keer die staproete aangedurf wat op die gronde is. Dit was ‘n heerlike 5km stap van ons Escapé parkeer het, tot ons die bosluise uit ons skoene kom krap het nadat ons deur die veld en in die krans af en op geklouter het.

Die laaste aand het die weer ons toegelaat om weer in die boma vuur aan te steek. Hierdie keer het ons nie die stoepligte aangesit nie en onsself net aan die vlammelig oorgegee. Selfs nadat ons vleisies gebraai was, het ons net nog stompe op die vuur gegooi en ons oë laat skuif tussen die lekkende vlamme en rooi kole hier by ons voete en die wit gaatjies in die swart kombers bo ons koppe…

Kleurvolle voëltjie op ‘n miernes

Die naweek het heeltemal te vinnig tot ‘n einde gekom, maar ons batterye was weer vol en soos ons die teerpad getref het, was ons min of meer reg vir die kort werk-week wat wag…

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *