2018 Kgalagadi – Dag 3

‘n Leeu van ‘n Vakansie!

Maandag – 2018/10/15

Vanoggend het die wekker ons halfses wakker geraas. Ek wens ek kon sê ons het uit die bed gespring, maar al slaap die opblaas matras baie lekker, was dit meer ‘n rol-poging van lê tot hande-vier-voet en dan regop…

Ons wou sesuur by die hek uit in ‘n noordelike rigting. Ons het vas gehak by ‘n witkruis arend net buite Nossob se hek. Die wit bors het ‘n rooierige gloed gehad, saam met alles rondom, soos die son aan die opkom was agter die oorkantste oewer.

Swartborsslang arend wat tuur oor die oewer met sonopkoms

By Cubitje Quap was daar blou wildebeeste by die watergat en ons het besluit om verby te hou na Kwang toe… Daar aangekom, was daar ‘n leeumannetjie en –wyfie ‘n ent weg van die watergat af. Hulle was nogal vêr en dit was duidelik dat hulle nie binnekort te bedrywig sou raak nie… Ons het dus verder noord gery.

Oggend roetine van die mannetjie en die wyfie is net lui

By Bedinkt se watergat was daar twee gemsbokke aan die ronddwaal, maar so saam met die laaste bietjie koffie in my fles, het ek die omgewing ingedrink. Die droë rivierloop wat op plekke so wyd uitgestrek is met net hier en daar ‘n boom. Die dooie bome hou vir my ‘n besondere bekoring in en gee soveel karakter aan die landskap… Dor takke wat in die lug opsteek, of plek-plek poog om deur die sand te stoot.

Die boom by Bedinkt

Van Bedinkt af is ons nog op tot by Lijersdraai se piekniek plek. Daar was blou wildebeeste en springbokke oppad soontoe en hier en daar ‘n gemsbok. Verder was dit net die vlaktes.

Met die terugtog het ons weer by Kwang ingery en was net betyds om te sien hoe die leeuwyfie lewe kry en begin wegstap van die mannetjie af… Maar voor sy te vêr gevorder het, was hy ook op en agter haar aan… Sy het skaars die koelte bereik of hy was by haar en toe is dit sulke tyd. Nadat sy omgerol het en hy net weer gaan lê het, het ons besluit ‘n middagslapie klink ook lekkerder, as om nog so in die hitte rond te ry.

Ons middagslapie is egter bietjie uitgestel, toe daar weer ‘n bateleur ‘n watergat oorgeneem het… Hierdie keer was dit by Cubitje Quap. Ons het geen bad-aksies gesien nie, maar daar is water gedrink en met die wegvlieg, kon Christoff ‘n paar skitterende fotos neem.

In ons tent, in die koelte van die boom en met ‘n lawende briesie in die lug, het ons ‘n lang middagslapie deurgewerk, voor ons die vorige dag se skottelgoed gaan was het. In die kombuis was ‘n oom besig om vir Hendrik, een van die plaaslike mense, tande te maak… Die oom het so vaagweg bekend gelyk, maar ek kon hom nie plaas nie. Hy het op ‘n stadium vertel van pryse wat hy met fotos geneem het, maar steeds wou die klokkie nie behoorlik klingel nie.

Marie se Gat was op die middag rit se skedule en ons was hoopvol dat daar meer sou gebeur as die vorige dag. Vandag was ons bietjie later en het ons eers by vyfuur arriveer, maar ons was weer die eerste voertuig.

Aan die begin was dit maar net weer ‘n gemsbok of drie wat kom water drink het, met ‘n jakkalsie wat ‘n sluk of twee so in die verby-draf neem. Later het ‘n springbok kom water slurp en met die voëls wat stil geraak het, kon mens letterlik hoor hoe die water opgeslurp word.

Op ‘n stadium het ek agtergekom daar is iets aan die gang tussen die gemsbokke. Daar was ‘n half-horing gemsbok wat kort op ‘n ander een se stert gebly het. Aan die begin was dit nie ‘n probleem nie, maar later kon mens sien hoe die ander gemsbok geïrriteerd begin raak het met die agtervolger. Sodra die half-horing een naby kom, trek die ander een met ‘n spoed weg en hol ‘n wye draai. Met tye het die half-horing die ander een agterna gesit, maar ander kere het hy net agterna gestaar, totdat die een weer naby genoeg was om ‘n nuwe poging aan te wend.

Orige gemsbok by Marie se Gat

Ons kon nie uitpluis of die half-horing die village idiot was en of dit ‘n voorloop tot ‘n vryery was nie… My geld was op die village idiot, want ek was nie so seker of die geplaagde-gemsbok ‘n wyfie was nie.

Dit was die laaste opwinding vir die dag en ons het ‘n lyn gesny terug Nossob toe om betyds deur die hekke toe kon wees en ons vuurtjie aan die gang kon kry voor die son heeltemal agter die horison in verdwyn.

Hier is ‘n ander foto of twee wat die dag geneem is:

Een van die Bedinkt gemsbokke
Wegstappende wildebeeste van Nossob se watergat af
Cubitje Quap se bateleur – op sy merke… gereed…
… en daar vlieg die bateleur…

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *