2018 Kgalagadi – Dag 9

‘n Leeu van ‘n Vakansie!

Sondag – 2018/10/21

Deur die nag het die wind opgekom en met tye die slaap heeltemal weggeblaas. Gelukkig nie die tent ook nie… Ons het net vinnig gaan tande skrop, ons flesse volgemaak en Melkvlei se kant toe gery.

Die eerste stuk pad was redelik stil, want die wind het meeste diere plat gewaai. Daar was twee skilpaaie op aparte tye wat in die koeligheid stadig aan die ronstap was. Oral het die bokke in klompies in die vlakte gelê. Selfs die volstruise het gaan sit, met die jongelinge in gelid agter pa wat die wind redelik kon afkeer.

Skilpadjie in die pad

Wat opvallend was, is hoeveel minder jong volstruisies daar was. As hulle nog graspolletjies is, is daar maklik ‘n tiental wat agter pa of ma aanloop, maar as hulle so hoog staan soos die ouers se lang bene, is daar amper net die helfte van hulle oor.

So kry ons ‘n jong leeumannetjie wat oppad was Kij Kij watergat toe. Mens kon sien die man was dors. Hy het nie eers twee keer gekyk na die tientalle springbokke wat sy pad gekruis het nie… en dan was die wind ook nog van voor. ‘n Wind wat soms aan ‘n sand storm gegrens het. Hy’t net sy oë toegeknyp teen die wind en sand en vorentoe bly stap.

Oppad na Kij Kij watergat

By die watergat het hy gaan stelling inneem en begin drink. Ons het gedink die beseerde hiëna van nou die dag het lank gedrink. Die kalant kon daai een gaan lesse gee. Hy het op ‘n stadium aan die anderkant van die watergat stelling ingeneem, sodat die wind nie die sand so in sy oë waai nie, maar steeds het hy die water opgelek-lek-lek…

Lekker aan die drink by Kij Kij watergat

Heelwat later het hy koers gekies tussen die voertuie deur en hom in ‘n effense koelte gaan neervly. Die koelte was eintlik nie nodig nie, want die son het net met tye uitgekom en die hitte was deur die wind weggewaai.

Die laaste stuk Melkvlei toe was daar nie veel te siene nie. Ons het rustig bene gerek, met ‘n happie of twee uit die koelboks uit, terwyl ons na die gedreun van die Kalahari se donderweer luister.

Donker wolke vorm ‘n pragtige kontras bo die duine

Oppad terug het ons gestop vir ‘n volstruis wat die pad wou kruis en die ou se shins het omtrent neon oranje geskyn. Christoff lig my toe in van waar die rooi skene spottery vandaan kom… en so leer ek ook nog ietsie.

Terug by Kij Kij was die jongman aan die wegstap van die watergat af, maar het toe bedenkinge gekry en weer teruggestap vir ‘n volgende suip-sessie… Met ‘n paar gemsbokke wat op ‘n veilige afstand sy bewegings bespied.

Nog ‘n bietjie water by Kij Kij

Die lug het al hoe donkerder geraak en ons het besluit dit sou baie lekkerder terug wees in die kamp onder ‘n kombersie. Ons tog is egter onderbreek deur ‘n bateleur op ‘n tak, ‘n vaalboskat in ‘n boom en ‘n jagluiperd verder af in die pad.

Bateleur langs die pad

Die jagluiperd was duidelik nog uitgeput na die jag, want die bokkie wat hy platgetrek het, het onaangeraak naby hom gelê. Daar was ook ‘n jakkals in die gras naby aan die jagluiperd wat sy kans afgewag het om ‘n stukkie te steel, sodra die jagter homself gehelp het.

Jagluiperd rus kort na die vangs

Naby Rooiputs het daar twee leeu mannetjies langs die pad gelê. Hulle was omtrent kort asem en dit was nog nie eers warm nie. Toe die een egter opstaan om nader aan die ander een te gaan lê, was dit duidelik hoekom hulle so kortasem was. Die menere se pense het doer gestaan en hulle het amper te ongemaklik gelyk om lê te kry… Hulle moes ‘n goeie vangs in die nag gehad het, of die hele watergat by Rooiputs opgesuip het.

Leeu mannetjie links van die pad
Leeu mannetjie regs van die pad

Terug by die tent het ons ons verlekker in die fotos wat geneem is en toe gaan opkrul om ‘n uiltjie te knip in die koeler weer. Die wind het dit egter kom onderbreek met ‘n woeste warrel deur die kamp en ‘n besonderse brawe poging om deur die tent wand ook op die bed te kom klim. Christoff moes maar op om te gaan seker maak die toue gaan nog hou.

Met ons middagrit het die twee leeu mannetjies by Rooiputs se watergat rondgelê en die jagluiperd was steeds uitgestrek naby sy vangs, maar nou was hy heelwat nader… Die jakkalsie was steeds in die omgewing.

Ons het nie te vêr gery voor ons teruggedraai het kamp toe nie. Dit was weer ‘n goeie dag met lieflike leeus en ons kon gaan rustig raak oor ‘n vuurtjie in die kamp.

Ons staanplek by Twee Rivieren

Hier is nog ‘n paar fotos van die dag:

Jong leeu mannetjie op ‘n misie watergat toe
Die watergat is in sig
Eerste sarsie water drink
Net so bietjie opkom vir asem en seker maak die voertuie kom nie nader nie
‘n Sanderige wind laat hom oorskuif na die anderkant van die watergat
Sonnetjie het so bietjie deurgebreek toe die man begin kop oplig
Kyk hoe mooi is ek as die son my vang
Vaalboskat skuil in die boom teen die wind
Op teen die duin by Rooiputs watergat
Twee mannetjies bymekaar op die duin
Lui jagluiperd met sy vangs agter sy rug
Jakkals krul op teen die wind, maar nog in die jagluiperd se omgewing
Jong roofarend
Volstruis met rooi skene

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

2 thoughts on “2018 Kgalagadi – Dag 9

Dit is awesome. Baie goed verwoord…. Wonder net waar kom die neon hakskene vandaan

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *