2018 Mafunyane – Dag 4

Saterdag – 2018/03/31

Staanplek nommer 2

Die volgende oggend is ons weer vroeg uit die vere en ek moes wikkel om ‘n foto van die kamp te kry, terwyl almal al begin opslaan het. Die vorige aand was dit reeds te donker om ‘n behoorlike idee te kon vorm van die kamp en dit moes toe maar wag vir die volgende oggend.

Ons was omring met die mooiste bome.

Dis hoe mens ‘n tent plat kry… – van Heerdens

En by gebrek aan ander wildlewe, het Andries maar gesorg vir aapstreke.

Ons het al hoe beter geraak met die kamp opslaan, so ons was heelwat vroeër gereed om die pad vir die dag aan te durf.

Kort voor 8h het Eric gestop en ‘n paar tree in die bos ingeloop. Hy het by ‘n boom gaan staan, waar 3 verskillende bome in simbiose saamgroei.

En kort na ons vort is, het die kameelperde vir ons begin loer.

Daar was ‘n paar versoeke dat ons vir pap wiele moes stilhou en kort voor lank het die konvooi tot stilstand gekom.

Bene rek geleentheid

Party het gehoor gegee aan moeder natuur en ander het hulle versnaperinge uit die bagasieruim aangevul.

Ek het die geleentheid gekry om ‘n mopanie blaar van naderby af te neem, met ‘n groen goggatjie wat vir die lens teruggeloer het.

Die omgewing was besaai met mopanies en die flinder-blare was om elke kronkel in die pad sigbaar… en natuurlik langs die reguit stroke ook.

Na ongeveer ‘n uur se ry, het ons by ons ontbyt-stop aangekom…

Piekniekplek

Eric het die voertuie op ‘n streep op die brug ingeryg, voordat hy self effe pad af in die koelte gaan stop het.

Piekniek parkeerplek – van Heerdens

Vir 10h in die oggend het die son reeds behoorlik geklits en ons het Escapé teruggetrek teen die wal uit en onder ‘n boom gaan stop.

Escapé in die koelte – met die “pose”

Die kinders het hulle besig gehou om naaldekokers af te neem en om klippe op die water te hop… of ten minste te probeer…

Oupa en Juan bespreek klipgooi-strategie

Die Dreyers het die wal trotseer en heerlike skadu gaan opsoek… en kort voor lank het die res hulle voorbeeld gevolg en gaan gemaklik raak in die koelte.

Lekker word daar in die koelte uitgespan

Eric het ons ‘n uur later begin naderskraap dat ons weer in die pad kon val… En so was ons weer beloon met ‘n loerende kameelperd… en ‘n skilpadjie in een van die rivierlope…

Daar was ook heelwat miershope in die omgewing en ek het Christoff laat stop om die skoorsteen-tipe (nou nie die wetenskaplike benaming nie) af te neem.

En toe word die konvooi weer tot stilstand gebring vir pap wiele… maar hierdie keer was dit regte pap wiele en moes die manne inspring om Eric en Arno weer op die pad te kry.

Pap wiele kry die nodige aandag

Gelukkig is dit nie iets wat ALMAL mee kon help nie, so die boude kon bietjie ruskans kry en die bene kon in ‘n koelte kolletjie gaan strek…

Bosberaad

Die bande was egter vinnig weer reg en die konvooi kon die res van die roete aandurf.

Ons het vir ‘n redelik lang stuk langs die westelike grensdraad opgery en buiten vir die bestuurders, was daar in meer as een kar ‘n kop wat vir ‘n uiltjie of twee geknik het… Diere was skaars, hitte was woes en die pad was reguit en sonder uitdagings.

Ons het egter per geleentheid effens weggeswaai van die draad af, net sodat ons deur ‘n droë rivierloop kon gaan.

Uit die rivierloop uit

… en toe duur die grens-rit voort…

Vroegmiddag was daar wel bietjie opwinding, met ‘n klip-brug wat weggespoel het en die bestuurders het weer bietjie hulle 4×4 vernuf ingespan om anderkant uit te kom.

Arno eerste oor die gebreekte brug, na Eric
Gevolg deur Andries
Gevolg deur oom Jan, onder leiding van Wiaan
Oom Danie se beurt
Escapé was die agteros… “easy does it”

Kort voor twee het ons teruggeklim op die teerpad en was ons oppad Punda Maria toe. Die, soos ons, wat 3 dae laas warm water oor hulle lywe gehad het, het uitgesien om te gaan stort, terwyl die res maar net bietjie voorrade kon gaan aanvul.

Maar skielik was die gedagte aan ‘n warm stort en vars lywe vergete, toe daar bromvoëls links van die pad gewaar was. Hulle het in ‘n boom begin, afgevlieg grond toe en te poot verder die veld ingevaar.

Ons is vars uit Punda Maria uit, vir die laaste skof kamp toe… met nog ‘n arend langs die pad…

‘n Paar rooibokke en ‘n zebra het ook hulle verskyning gemaak.

Zebra langs die pad – Juan Gouws
Olifant naby die pad

Net voor ons die draai in ons staanplek in sou maak (ons het natuurlik nie op daardie stadium besef dis die draai in die staanplek in nie), kom daar 3 olifante uit die bos gestap. Ons kon te lekker fotos neem, soos hulle verbygekom en in die bos in verdwyn het.

Min het ons geweet wat ons ‘n paar minute later sou gewaar…

Soos ons in die kamp ingery het, moes ons Eric komplimenteer. Hy het beslis die beste vir laaste gelos. Die kamp was op die oewer van die rivier, onder die lieflikste bome. Daar was ‘n paar tente wat permanent op die terrein opgeslaan was en die wat wou kon daar gaan nesskrop vir die nag.

Ons laaste staanplek

Oupa Ampie en Juan wou die een betrek, maar na Juan die hoeveelheid spinnekoppe daar gewaar het, was hy skielik minder lus om die nag daar te spandeer.

Soos ons kamp opgeslaan het, het iemand kom roep dat ons die trop olifante in die rivier moet kom kyk… En daar, ongeveer 500 meter van ons kamp af, was ‘n stuk van 50 olifante in die rivier doenig.

Trop olifante in die rivier

Ons het ons verkyk aan hoe die kleintjies baljaar het en die oueres hulp verleen het waar nodig.

Baljarende olifantjies – van Heerdens
Sommige in die water en sommige in die stof
Ons verkyk ons deur die verkykers

Maar soos die son begin sak het en die olifante weg beweeg het, het ons rustig begin raak in die kamp en onsself oorgegee aan die rustigheid daar langs die rivier.

Langbeen langs die rivierwal
Die uitsig van die wal af

Sommige was egter nog besig met finale besprekings met Eric, terwyl oom Jan het die kinders nader getrek en hulle leer Giffie speel het.

Maar kort voor lank was dit donker en het die braaivleis vuur hoog gestaan, met stemme wat opklink uit gemaklike kampstoele, soos ervarings oor en weer gedeel is. Iets wat ‘n groot bron van vermaak was, was om te hoor wat die Belgiese benamings vir sekere goed is… danksy Emily, sal toiletpapier nooit weer net toiletpapier of wit goud wees nie… “hol rol” sal in ons huis gereeld sy verskyning maak.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.