2018 Mafunyane – Dag 5

Sondag – 2018/04/01

Almal was weer vroeg uit die vere die volgende oggend en kort voor 7h is almal staan gemaak vir ‘n groepfoto.

Mafunyane 4×4 Eco Groep Maart 2018 – van Heerdens

Andries het namens die groep ons dank aan Eric oorgedra vir die manier waarop hy die groep hanteer het en dat hy ons veilig gehou het. Ons het ook almal aangebied, dat as Eric hulp sou benodig om die betrokke kampplek reg te ruk (soos hy ons die vorige dag vertel het sy plan is), ons meer as bereid sou wees om gratis te kom uithelp.

Sleutel soektog – Jan van Heerden

Met almal in hulle voertuie, het ons geduldig gewag vir Andries om weg te trek, aangesien hy basies in die pad kamp opgeslaan het… Maar Andries se deur het weer oopgegaan en toe word daar in die bagasie gegrou… Kort voor lank is die daktent ook weer oopgezip… Die bakkie se sleutels was vermis…

Ons het almal gedink dit sou ‘n wonderlike April’s Fool Joke gewees het, as die sleutels nie regtig weg was nie en ons net bietjie langer op die kampplek kon uithang… maar nou ja, dit was toe nie ‘n grappie nie en minute later is die sleutels in die vou van die tent gevind.

En so het die heel laaste skof aangebreek, terug Punda Maria toe.

Laaste skof terug Punda Maria toe
Ons was beloon met nog ‘n indrukwekkende kremetart boom

En ek het darm die geleentheid gekry om een van die meer bulterige miershope ook af te neem.

Muurshoop rondom boom

Maar kort voor lank was ons weer terug op die teerpad en was daar weer ander voertuie saam met ons op die pad.

Die kersie op die koek was egter toe ons verby ‘n trop bobbejane ry en een bo-op ‘n miershoop kon kry.

Aap op n miershoop – van Schalkwyks

Die pad Punda Maria toe was heeltemal te kort… want toe ons weer sien, ry ons die kamp binne. Die tyd het aangebreek om afskeid te neem van ons mede-reisigers wat die afgelope paar dae hulle lewens met ons gedeel het.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af.