2019 Kgalagadi – Dag 3

Die onderste duinepad

Dinsdag – 2019/09/24

Dit was ‘n bitter koue nag in Twee Rivieren! Ons was nie voorbereid vir daardie koue nie… Ons het die hele nag deur lepel gelê… dan was ek die binne lepel en dan was Christoff die binne lepel… Ons het op ‘n stadium oorweeg om op te staan om nog ‘n laag klere aan te trek, maar was ook nie lus om die broei-hitte te verloor nie… En die nagtelike besoek aan die badkamer moes ook maar uithou…

Kyk! As jy bereid is om bedompig te slaap, met jou kop onder die kombers, net omdat jou neus wil afvries van die koue as dit bo die kombers is, dan moet jy weet… maar ons wou op ons nuwe dubbel-opblaasmatras slaap en het natuurlik net die duvet en een kombers ingepak… So lyfhitte was maar ons redding.

Juan was in ‘n slaapsak, met ‘n fleece kombers, met langmou klere… en hy het ook koud gekry, allenig in sy tentjie… maar darm nie so erg dat dit nodig was om te kom vra vir nog warmgoed nie.

Met die opstaanslag het ons die gasketeltjie aan die gang gesit en koers gekies badkamer toe. Terug by die tent het ons met stokstyf, koue vingers die flesse volgemaak, ‘n paar happies oorskiet in ‘n koelhouer gedruk en AL ons warm klere aangetrek… en met AL ons warm klere bedoel ek Christoff het sy somer-sweetpak aangetrek, ek het my sweetpak aangetrek, met nog ‘n dun langmou top, en Juan het twee winterbaadjies en ‘n sweetpakbroek aangetrek. Hy’t nog sy fleece kombers ook saamgery in die bakkie.

Die rit op in die Auob was baie stil. Ons het ‘n paar gemsbokke en ‘n volstruis oor die duine gesien, maar toe ons eers in die Auob was, was daar amper niks te siene nie.

Met die rivierloop vol niks, het ons Juan maar vermaak met goed wat tydens vorige besoeke gesien is… onder andere die leeuvangs… veral toe ons by die boompie verbyry waar dit afgespeel het.

Op ‘n stadium gewaar ek beweging onder ‘n boom, maar ons was nie vreeslik hoopvol nie, want daar was al ‘n paar gevalle wat die “iets” onder die boom uitgedraai het om net nog stompe of klippe te wees – selfs deur die verkyker… Die keer was dit egter nie!

Jagluiperd se kind in die vroegoggend skadus in die Auob

Dit was bietjie ver van die pad af, maar met die 600mm lens wat ingespan is kon Juan die jagluiperd, besig om aan ‘n springbok rammetjie te vreet, afneem. Hy was maar skrikkerig aan die rondkyk vir enige iets wat dalk sy ontbyt wou kom afvat, maar gelukkig vir hom was daar niks in sig nie. Dit het hom egter nie gestop om kort-kort die omgewing deur te kyk nie… Selfs die arend bo sy kop het met elke rondkykery ook ‘n bietjie aandag gekry.

Die roofarend was eintlik min met die jagluiperd gepla

Ons het ‘n wyle daar vertoef voor ons Auchterlonie toe is. Daar het ons vir Juan rondgewys by die ou huisie en die omliggende werksareas wat bewaar is… en van die ekstra lae klere ontslae geraak.

Ek was saam met hom oppad na die verste klipmuurtjie, toe my moed my begewe… Dit was darm net heeltemal te oop in die vlaktes vir my om vinnig genoeg op ‘n veilige plek te kon kom as ons enigsins ‘n leeu, of iets dergelik, sou gewaar… Juan se lang, jeugdige bene sou hom baie vinniger by veiligheid kon kry, as wat my kort (ouer) bene my sou kon dra.

En so breek die tyd aan om beloftes na te kom… Ons het Juan belowe dat hy sy beurt agter die stuurwiel sou kry in die Kgalagadi… en beloftes maak skuld…

So tussen die bestuurs-tips deur kon ek en Christoff die omgewing bespied vir enige iets anders as gemsbokke of springbokke… Ons was darm beloon met ‘n gompou by een van die watergate, voor ons by Kamqua ingery het.

Gompou by die watergat

Ons het weer terug gery tot by die eerste duinepad en besluit om daar links te draai na die Nossob rivier toe. Vir die leerlingbestuurder was dit hopelik ‘n stiller pad en ons was nie te positief dat ons veel op die roete sou sien nie… En ons was amper nie verkeerd nie… Maar gelukkig was ons. 😉

Daar was ‘n paar gemsbokke tussen die duine en in die vêrte het ons nog ‘n gompou en duikertjie sien wei, maar toe ons by Tierpan kom, was daar skielik baie lewe. By die watergat was daar drie gemsbokke doenig, maar toe ons teen die duin uitkyk, gewaar ons heelwat ander viervoetige karakters.

Ons het eers gedink dit was dalk hiënas met kleintjies, maar dit draai toe uit om twee gevlekte hiënas en ‘n stuk van 6 rooi jakkalse te wees…

Hiënas en jakkalsies by ‘n eland karkas

… met ‘n aasvoël wat op ‘n afstand sy beurt afgewag het om ook by die eland karkas uit te kom… en later het nog een bygekom…

Aasdiere aan die eet, met aasvoëls wat hulle beurt afwag

Die een hiëna het egter vir vermaak gesorg toe hy ‘n wye draai om die gemsbokke gehardloop het, om ‘n duik in die watergat te kom maak…

Pens en pootjies in die watergat

Ons het vir ‘n lang ruk daar langs die watergat vertoef en ons verkyk aan die hiëna se water-manewales… Maar dit het begin warm raak en die manne het lang gape begin gee…

Ons het die laaste entjie van die duinepad kafgedraf en toe ons teen die duin afry na Kij Kij toe, staan daar ‘n hele aantal karre by die watergat. Ons het gewonder of dit dalk die vorige dag se beseerde bruin hiëna was wat nog daar rond was… maar toe nie.

Ons het amper verbygery, toe iemand beduie daar is ‘n rooikat langs die watergat in die slootjie. Ons het dit amper misgekyk, want dis die eerste keer wat ons een in lewende lywe gesien het en die outjie is toe heelwat kleiner as wat ons verwag het… en ons moes natuurlik tussen die ander voertuie deur korrel om iets te siene te kry…

Kij Kij se rooikat

Maar, al is dit ‘n kleinerige dier, was die gemsbokke skrikkerig om aan daardie kant van die watergat water te drink. Die groot trop het maar rondgedrentel en die braweres het nader gekom vir ‘n vinnige slukkie aan die oorkant van die watergat.

Ons het besluit om nie te wag om te kyk of daar iets by die watergat gaan gebeur nie, want dan was daar beslis in die kar ‘n uiltjie geknip… Die terugrit Twee Rivieren toe was sonder enige voorvalle en Juan kon rustig die kamp inry…

Na ‘n stewige ontbyt het hy sommer omgekeer in die tent vir ‘n laaang middagslapie… Die ongeveer 100km wat hy agter die stuurwiel was, was uitputtend!

Ons het ook gaan skuinslê en na ‘n heerlike middagslapie het ons besluit om nie weer ‘n draai te gaan ry nie… dit was dan kwansuis Nasionale Braai-dag, so ons het gereed gemaak om vroeër vuur aan te steek.

Hier is ‘n paar fotos van die gevlekte hiëna by Tierpan se watergat:

Sterk oppad water toe
Laat ek net seker maak dis veilig
Wat kyk julle?
Kom daar iets aan?
Ek is seker daai is nie niks nie…

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *