2023 Noordkaap – Dag 3

Kuslangs na Port Nolloth

Maandag – 20 Maart 2023

Maandagoggend was ons behoorlik traag uit die vere. Die eerste deel van die nag was ‘n gestoei met kamikazi muskiete, totdat ons die Peaceful Sleep matjie begin opwarm het.

Na die eerste koppie koffie en ‘n beskuitjie of twee, het ons begin lewe kry. Christoff het gaan stort, terwyl ek die kombuis getakel het en toe ek myself gaan skoon kry het Christoff begin pak… Dit was tyd vir die roete op na McDougalls baai, Port Nolloth.

Ek begin sommer met die amptelike kaart van hoe ons gery het, met satelliet fotos as agtergrond, om ‘n beter gevoel van die omgewing te gee.

Kuslangs na Port Nolloth

Daar was so bietjie van ‘n misverstand tussen Christoff en Marietjie, van Honne Pondokkies. Ons wou kus langs op ry Port Nolloth toe – soos aangedui op die kaart – en Marietjie het volgehou daar is nie ‘n pad nie… Toegegee, sy kon dalk gedink het hy bedoel strandlangs, aangesien Winston kan deurgaan as ‘n strandloper… maar dit was nie heeltemal die bedoeling van “kus langs” nie.

So kies ons koers na Koingnaas, al met die sinkplaatpad saam. ‘n Polisiebakkie het ons kort buite Hondeklipbaai verby gevat en ons het verby ‘n MP-bakkie gery. Ek noem die voertuie, want die vorige dag was daar geen ander voertuie op die grondpad nie.

Die pad van Hondeklipbaai na Koingnaas is ‘n breë grondpad, maar goed uitgetrap, met ‘n tydelike brug waar mens oor die Swartlintjiesrivier gaan. Die eerste tydelike brug was weggespoel tydens die laaste vloede in die omgewing.

Kort voor lank maak die pad ‘n draai na die kus en daar verskyn die klein myndorpie voor ons.

 

Checkpoint Drive het voor ons gewink en dit raak teer sodra mens verby die Koingnaas bord ry. Dit dien ook as die Namaqwa Coastal Drive… ‘n teerpad al teen die kus op tot by Kleinsee… Kyk jy regs, is dit vaal vlakte en droë bossies binneland toe. Kyk jy links, is dit vaal vlakte en droë bossies see se kant toe. Plek-plek was ons bederf met ‘n dippie af see toe waar mens die branders kon sien uitrol strand toe.

Dit was amper 2 ure nadat ons weg is uit Hondeklipbaai en teen die tyd was ons al baie lus vir koffie… Ons het weer Google ingespan en daar het ‘n koffie winkel/restaurantjie opgepop, maar ongelukkig vir ons, was daar na 10h in die oggend nog geen teken van lewe daar nie.

In ons soeke deur die dorp, eindig ons toe op by Crazy Crayfish – wat ook toe was – maar baie oulike fotos opgelewer het.

Crazy Crayfish dekor

Dis duidelik dat restaurante op Maandae nog toe is op die klein dorpies, so die soeke na koffie was onsuksesvol en ons kon ook nie ‘n lekker staanplekkie kry waar ons vir onsself kon koffie maak nie. So druk ons toe deur van Kleinsee af Port Nolloth toe.

Mens is skaars uit Kleinsee uit, dan is dit weer sinkplaatpad en anders as oppad Hondeklipbaai toe, was daar weliswaar ‘n paar voertuie wat van voor af gekom het. Waarskynlik omdat dit die enigste pad tussen die twee dorpies is, as jy nie ‘n baie groot ompad wil ry nie.

16km voor ons bestemming, het ons teruggeklim op die R382 teerpad na Port Nolloth van Steinkopf af. Net voor Port Nolloth swaai mens links na McDougalls baai… By Dis Al! aangekom, was ons heelwat vroeër as die inkloktyd. Lynette was darem gaaf genoeg om vir ons iets te probeer reël. Terwyl ons haar aan haar reëlings oorgelaat het, het ons ‘n draai deur McDougalls baai se straatjies gery en die verskillende vakansie-huis name bekyk en lekker gegiggel oor ‘n paar.

Ons is terug na Dis Al! en het langs ons Droom huisie (dis die huisie se naam) Winston se wiele in die sand gaan inskop en begin aflaai.

Droom huisie in McDougalls baai

Ons het die koffie maar laat staan en met ‘n koue enetjie die uitsig van die stoepie af geniet.

Uitsig van die Droom huisie se stoep af

Ons het later die middag ingery Port Nolloth toe, op soek na hout. Op aanbeveling van Lynette kon ons die Spar of die motorhawe probeer. Oppad in was daar ‘n Onse Winkel wat hout in die venster gehad het, maar ons het eers ‘n draai gery motorhawe toe, omdat ons Winston se dors moes gaan les.

Daar was ‘n groterige winkeltjie by die motorhawe waar ek bietjie rondgesnuffel het, terwyl Christoff die brandstof-administrasie hanteer het. Buiten vir ‘n paar lang kouse vir Christoff, was dit net my lus vir aartappelskyfies wat iets op die toonbank laat beland het.

Laagwater foto van die strand by ons huisie

Vir die hout het ons toe maar by Onse Winkel gestop. Wat nogal ironies was, is dat Onse Winkel deur Pakistanies bedryf word. Ons het nietemin behoorlike braaihout gekry en sommer 4 sakke op Winston se dak vasgemaak.

Terug by ons Droom huisie, het ons eers kaalvoet oor die pad gesuiker om te gaan kyk of ons op die strand kon stap, maar dit was ons nie heeltemal beskore nie. Dit was hoogwater en ons kon nie regtig verby die karavaanpark se heining afgaan strand toe nie. Die seewind het ook ‘n reukie aangedra wat ‘n stap tussen die uitgespoelde seewier na ‘n minder lekker vooruitsig laat lyk het.

Christoff het die vuur begin pak en ek het die slaaigoed nader getrek en so kuier-kuier op die stoepie het die vuur en slaai vorm aangeneem.

Droom van ‘n braaier… en die slaai-maker aan diens

Ons het net klaar opgeruim na ete en weer op die stoep gaan stelling inneem, toe ‘n wit Jimny voor die deur kom parkeer. Die McDougalls baaier het Winston gesien en het ‘n paar vrae gehad oor die veranderinge wat ons aangebring het en hoe ons die karretjie ervaar. Dit het in ‘n lekker lang gesprek ontaard, terwyl die son oor die see gesak het.

Nadat ons kuiergas gery het, het ons nog ‘n wyle op die stoep vertoef, voor ons die kamer gaan pantser het teen enige muskietaanvalle vir die nag.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *