2023 Noordkaap – Dag 4

Via Suid Afrika se hoekie na Sendelingsdrift

Dinsdag – 21 Maart 2023

Halfpad teerpad, halfpad grondpad

Die son kom later op so noord teen die Weskus, met die gevolg was ek elke oggend voor Christoff wakker. Hy’s ‘n battery hoender en ek is ‘n gewoonte dier, met die gevolg is dat as die son later opkom as wat ons gewoond is om op te staan, dan is ek lank voor hom uitgeslaap… Wel, dis of dit, of ek is net te opgewonde oor wat elke dag gaan inhou.

Ons bestemming vir die dag was die Sendelingsdrift kamp in Sanparke se Ai-Ais Richtersveld park. Ons eerste blootstelling aan die Richtersveld! Die oorspronklike afstand sou so 173km gewees het. Hier is wat ons toe wel gery het.

Die pad tussen Port Nolloth en Alexanderbaai is geteer en daardie amper 90km het sonder enige opwinding verloop. Daar was kort-kort ‘n myn teen die kus, maar anderins het die pad lank en reguit voor ons uitgestrek met bossies wat al hoe minder geraak het en meer sand waar jy kyk.

 

Kort na Port Nolloth
Nader aan Alexanderbaai

Ons het dalk bietjie te veel van Alexanderbaai verwag, om te dink ons gaan koffie iewers kan kry, maar gelukkig het ons ons nie laat onderkry nie. Ons het Winston links gestuur en links gehou tot ons ons teen die Oranje rivier vasgery het… en daar het ons vir onsself koffie gemaak.

 

Winston rus in die koelte, terwyl die gasstofie bietjie werk
Oranje rivier mond uit in die see
Koffie en beskuit in die noordwestelike hoek van Suid-Afrika

Terwyl ons besig was om koffie te drink, het Joseph daar aangestap gekom, met die paar skapies wat hy oppas. Ons het toevallig by die bome parkeer waar hy sy water-voorraad in die koelte gelos het.

 

Die plaaslike mense praat ‘n mooi Afrikaans. Hy het so in die verbygaan kommentaar gelewer oor die oulike gasstofie wat ons ingespan het vir die koffie en kort anderkant Winston gaan rustig raak op ‘n boomstomp. Na ‘n rukkie het daar nog ‘n paar manne bygekom en hulle het deur die heining geklim en na die vee gaan kyk wat langs die rivier gewei het.

Soos ons die koffie bekers uitgespoel het, het ‘n bakkie nader gery gekom en ons het vinnig vir Winston uit die pad verwyder en koers gekies terug deur die dorp. Ek vermoed ons stop langs die grens, het ‘n paar ekstra kilometer op ons roete gesit, want die R382 loop half verby Alexanderbaai en ons het nie net verbygehou nie.

Terugblik op die Oranje na die grens-brug.

Die R382 loop vir lank langs die Oranjerivier en ek moes Christoff natuurlik laat stop dat ek ‘n foto kan neem.

Daar oorkant die rivier was Oranjemund… en dit het sommer dadelik op ons lysie beland vir wanneer ons weer hierdie kant toe kom.

Ek het die vakansie-gevoel begin kry en saam met dit het die behoefte gekom om alles te probeer vasvang. My arme man moes elke keer stop as ek die gevoel gekry het die omgewing gaan ‘n mooi foto maak. So het ons gestop by ‘n boom… Wel, naby ‘n indrukwekkende boom wat langs die pad was.

En die pad voor Winston was net grond en breed genoeg vir 3 bane.

Winston en die boom
Die pad uit Alexanderbaai uit

Terwyl ek so lekker fotos geneem het, het Christoff die GPS bygedam. Ons was nou oppad na omgewing waar selfoon opvangs baie sporadies was en ons GPS wou net nie lekker saamspeel met die kortpaaie wat ons grondlangs wou neem nie.

Die probleem was toe ‘n avoidance gestel vir unpaved roads. Baie vreemd vir ons weglopie met Winston, aangesien ons juis verkies om grondpaaie te ry, maar die verstelling is toe gemaak en SIEDAAR! Die GPS gesels baie mooi saam met ons beplande roete op Google.

Die pad het hoofsaaklik langs die Oranjerivier geloop maar as gevolg van ‘n kragstasie en myne langs die rivier, het die behoefte om fotos te neem so bietjie die wyk geneem. Die pad draai egter naby Brandkaros Resort verby en daar moes ek ook net ‘n paar fotos neem, voor ons kon verder ry.

Afdraai na Brandkaros Oord en die berge oorkant die rivier

Waar die naam Brandkaros vandaan kom, is ons nie seker nie, maar die berge oorkant die rivier het sulke swart voue gehad. Dit het dalk iets met die naam uit te waai.

‘n Paar kilometer verder loop die pad oor ‘n rantjie en soos Winston ons oor daai rantjie vat, ontvou die mooiste toneel voor ons.

Oranje rivier deur die dor omgewing

Net anderkant daardie toneel, draai die pad weg van die rivier af en is mens baie dankbaar vir die beskerming van ‘n voertuig… en die wete dat daar ‘n paar dae se kos en water in Winston is.

By die eerste bord na Ai-Ais, moes ons net eers stop en ‘n foto neem. Hoe dan anders?

46km weg van die Park se hek

Die pad het baie dieselfde gebly van daar af, tot mens by die Helskloof hek van die park arriveer het.

Ons is hier!

En soos wat ons die oomblik vasvang met ‘n lang-arm-selfie en ‘n paar ander fotos, kom William Joseph aangestap om ons in te teken in die park in. Dit was nogal ‘n storie, want die wind het amper sy papiere onder hom uitgewaai en hy het opgemerk dat ons die wind daar aangebring het. Ons was dankbaar vir die wind, want anders sou die hitte ‘n ander ervaring gewees het.

Die laaste paar kilometer in na die kamp toe, moes ons uitkyk vir myn trokke en bakkies, wat binne die terrein myn. Dit was so bietjie van ‘n demper op die ervaring.

Ons het gaan inklok by ontvangs en ons huisie se sleutel gekry. Heerlike koel huisies langs die Oranjerivier…

Sendelingsdrift kamp

En so begin die eerste kuiertjie langs die Oranjerivier. Ons het dit nie besef tydens ons beplanning nie, maar ons het nog 2 nagte langs die Oranjerivier wat gewag het.

Lekker langs die rivier

Na ‘n lekker middagslapie het ons ons kampstoeltjies uitgeskud en gaan stelling inneem langs die heining. Die vloei van die rivier was meesleurend en soos ons gestaar het, het die onderliggende gejaagdheid ons lywe vir ‘n bietjie laat staan.

Die wind het ons nie tot in die kamp gevolg nie. Wel, nie aanvanklik nie. Dit het later opgekom en ons stoeltjies was te lig in die broek om bo te bly, as ons dit nie platgesit het nie.

Die wind het die kole baie vinnig aangewaai en Christoff moes spring om die vleis gaar te kry voor die wind die kole ook wegwaai. Ons het maar binne gaan sit om te eet en toe ons na ete uitkom, was daar geen teken van kole of as in die braaier oor nie. Die suidwester het kom skoonmaak.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *