2023 Noordkaap – Dag 7

Augrabies na Orania

Vrydag – 24 Maart 2023

Vrydagoggend het ons dit bietjie rustiger gevat. Na ‘n verfrissende stort, het ons ons tweede beker koffie opgedra na die uitkykpunt bo-op die cottage. Die toneel wat ons aanskou het was net nog meer indrukwekkend van so 2-3 meter hoër af.

Panorama uitsig van Oranjekom

Buiten dat die cottage se dak die uitkykpunt is – wat deur die dag dalk ‘n probleem kan wees met ander park besoekers; en dat die badkamer so paar meter van die kamer af is – wat om verskeie redes ongerieflik kan wees – is die Gorge Cottage perfek geleë vir ‘n ongelooflike oornag-ervaring.

Van die badkamer na die uitkykpunt
Panorama van Oranjekom links tot regs by die badkamer

Dit was dus met ‘n mate van traagheid wat ons begin oppak het. Ons wou die Augrabies valle gaan bekyk, voor ons die pad Orania toe aanpak.

Augrabies valle
Stroom af van die valle
Ons was daar!

Van die paadjies by die valle was afgekamp, as gevolg van die laaste vloed se skade, maar van die ander uitkyk-platforms het steeds gesorg vir ‘n uitstekende uitsig op die massas water wat in die nou kloof afkom.

Ons het vir oulaas ‘n draai geloop, sleutels gaan ingee en toe skuif ek agter Winston se stuurwiel in. Met die GPS wat nie meer NET teerpad wou ry nie, het die dag se roete met amper 100km verkort met grondpad-kortpaaie. Die eerste een het kort buite Kakamas begin oppad Kenhardt toe.

Van Augrabies se Oranjekom tot Orania se Wilger Rus

Deur Kenhardt, Putsonderwater en Marydale was dit nog grondpad, maar by Marydale klim ons toe op die N10 na Prieska. Teen die tyd wat ons Prieska begin nader het, was ons al behoorlik lus vir iets om te eet en te drink.

BoKaro gastehuis en koffiewinkel

So gaan klop ons by die Bokaro koffiewinkel aan vir geroosterde hoender-mayo broodjies en cappucino. Dis ‘n oulike restaurantjie, wat deel vorm van ‘n gastehuis. Ek sal hulle beslis uitprobeer as ons ooit weer via Prieska kan oornag.

Gewapen met ons vars broodjies en koffie, vat ons toe weer die pad van Prieska af. Die amptelike roete vat mens deur Douglas, maar die grondpad (R369) sny amper 50km van die roete af… en Winston verkies mos maar die grondpaaie – veral as dit nie-sinkplaat plaaspaaie is.

Ongeveer 10km voor Hopetown gewaar ons ‘n geparkeerde voertuig met ‘n vrou wat buite die kar staan. Ons besluit om af te trek en te hoor of ons kan help met iets. Dit draai toe uit om ‘n stapper te wees van Hopetown, wat besig is om vir die RSG Camino te oefen, met haar ma in die ondersteuningsvoertuig.

Eerste optop uit ‘n kan

Van Hopetown af het ons teerpad gevat Orania toe, net om so paar kilometer buite Orania, vir die eerste keer ‘n jerrie kan in Winston se tenk leeg te maak. Ons kon in Hopetown of Prieska opgetop het, maar ons was reeds oppad terug huistoe en die kanne kon maar aangewend word.

In Orania aangekom, het ons stadig deur die dorp gery, agter ons Google pin aan vir Wilger Rus, waar ons die aand sou gaan oornag. Die dorp was aan die rivier se kant van die R369. Ons het ons verkyk aan die verskille tussen die wonings op die erwe. Van ‘n standaard baksteenhuis tot ‘n karavaan.

Ons het by Aan-die-Oewer ingery, agter Google aan, maar toe in ‘n vorm van ‘n heining vasgery. Ons het omgedraai en by ontvangs gaan aanklop. Die vriendelike dame kon ons egter nie help nie, want ons besprekings was nie by hulle nie.

Ek het die eienaar van Wilger Rus gekontak en hy het aanbeveel dat ons Bianca (sy verteenwoordiger op die dorp) by die dorp se stopstraat kry. So wag ons toe die wit Nissan bakkie in en volg Bianca en haar man tot by die ingang na Wilger Rus. Sy was ook baie vriendelik en tegemoetkomend en het ons vinnig touwys gemaak van al die gadgets en gizmos wat die eienaar in die huisie ingewerk het.

Na die vorige nag in die Gorgeous Cottage, was die greenhouse met riete tussen die lae plastiek so bietjie van ‘n antiklimaks… maar steeds ‘n interessante ervaring.

Wilger Rus se Visarend huisie

Die plekkie is baie goed geleë en mens stap net ‘n paar treë, dan is jy op die wal van die Oranjerivier.

Langs die Oranje rivier buite Orania

Met min sonlig oor en ‘n battery-sisteem wat dalk nie die hele aand lig sou kon verskaf nie, het ons maar vinnig vuur aangesteek om ons aandete aan die gang te kry… En so, sonder dat dit beplan was, slaap ons vir die derde keer in ‘n week langs die Oranje rivier.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *