Groen rivierlope!
Maandag – 15 Januarie 2024
Ons het besluit om ‘n wekker te stel… Eerste amptelike dag van vakansie – en ons staan 5h op… Die rede? Die hekke maak 5h30 al oop en ons wou weer ‘n draai in die Nossob opry, voor ons die huisie moes ontruim en Mata-Mata toe ry.
Ons het ons Stanleys vol koffie gemaak en was kort na 5h30 by die permit kantoor! Voorwaarts, Winston! Ek was agter die stuur, maar soek soos ons wou, geen katte het hulle verskyning gemaak nie. Selfs die gompoue en skilpaaie was skaars…
Daar was egter ‘n paar rooi jakkalsies wat plek-plek aangedraf gekom het… of aan die wegdraf was… En ‘n valkie hier en daar.
Ek het my meer verkyk aan die omgewing, met die groen rivierloop, wat andersins net grond was… Die kontras tussen die wit grondpad, groen rivierloop en wit of rooi duine was net asemrowend.
Daar was ‘n paar van die kameeldorings wat duidelik deur weerlig getref was. Dit was gesplit in die middel af en swart gebrand. Wat ‘n skouspel sou daardie storm nie gewees het nie.
Ons het by Kij Kij omgedraai, sodat ons betyds kon terug wees om die huisie te ontruim… en was nie baie hoopvol vir enige iets interessant oppad terug nie… tot ons ‘n grouende bakoor jakkalsie gewaar het. Ons het hulle maar nog min raakgeloop, so dit was groot pret om die snuffelende outjie vir ‘n rukkie dop te hou.
Kort voor lank was ons terug in die kamp en het vinnig die huisie – en onsself – opgeruim en die bagasie weer teruggeskuif in Winston in. 9h30 het ons laaste boodskappe die selfoon-torings getref en toe draai ons links na die Auob rivier toe, uit die Nossob uit.
Ons het ons teruggeleef in vorige besoeke aan die park, terwyl die duine rondom ons niks opgelewer het nie… en die kwiksilwer begin klim het. Die Auob was net so groen soos die Nossob. Met tye kon mens dink jy ry langs ‘n golf baan.
Volstruise, gemsbokke, springbokkies en blou wildebeeste het plek-plek rondgestaan… en soos die dag gevorder het, het hulle al hoe meer in skadu kolle begin rondlê. Daar was weer tientalle gompoue en meer as ‘n handvol sekretarisvoëls te sien.
Die eerste kameelperd wat ons gesien het, was ‘n karkas, maar ons was gelukkig genoeg om nader aan Mata-Mata drie verskillende troppe in lewende lywe te kon sien wei… en ons eerste kudus.
Gepraat van karkas… in die Nossob en in die Auob, was dit opvallend hoeveel beendere rondgelê het. Plek-plek was daar 5 tot 8 ‘n paar meter uitmekaar. Ons is gewoond om hier en daar dalk ‘n karkas of ‘n skedel te sien, maar hierdie rondte was dit ‘n ander storie – wat ons aan die wonder gehad het. (Later in die vakansie het ons antwoorde gekry.)
By Kamqua se watergat het Christoff meerkatte raakgesien. Ons moes natuurlik eers ‘n paar minute daar spandeer, terwyl tweetjies skrop en die derde brandwag staan. Ons het verder nog ‘n meerkat gekry, maar hy was op sy eie.
‘n Entjie verder is ons by die blou wildebeeste se babasorg verby. Daar was ‘n paar ma’s in die omtrek – meestal aan die lê – met amper ‘n dosyn nuwelinge so bymekaar.
‘n Breë kop arend het ons ‘n entjie verder ingewag in ‘n boom langs die pad. Ongelukkig bietjie verskuil agter takkies, maar nie so sleg dat Christoff nie ‘n foto kon neem nie.
Ons was amper in Mata-Mata en buite het Winston 38° gemeet… Ons moes egter by Craig Lockhart se watergat inry, om te kyk na daardie boom waar die luiperds rondhang… Wat ‘n teleurstelling het vir ons gewag! Die tak – wat in soveel fotos (van ander mense) gepronk het met ‘n spikkel-lyf – was nie meer deel van die boom nie. Dit het afgebreek sedert ons laas by Mata-Mata was… in 2018… duidelik kan baie gebeur in 6 jaar…
Die volgende vraag het begin wortelskiet… Waar is die luiperds se nuwe uithangplek?
By Mata-Mata aangekom het ons die chalet gaan opsoek, afgepak en in die verkoelde kamer op die beddens gaan vertoef vir ‘n middagslapie. Ek het vinnig ‘n paar kledingstukke uitgespoel. Na dit was ons nie weer lus vir rondry nie. Ons het bietjie in die uitkyk gaan rondhang, maar teruggestap om vroegerig vuur aan te steek.
Na ete het ons met die bure aan die kuier geraak. Fred, en sy vrou, is Hollanders wat gereeld in Suid Afrika kom kuier. Hulle is gaande oor ons land. So met die stories uitruil het die tyd gevlieg en toe ons weer sien was dit amper 20h… en skaars donker.
Ons het weer afgestap uitkyk-huisie toe, so korrel-korrel tussen die grond-eekhoring gate deur… Christoff is egter vinnig terug om Peaceful Sleep te gaan haal. Daar was ‘n eskader muskiete in daardie hout huisie… Na ‘n jakkals of twee verbygedraf het, het ons opgegee. Selfs met die Peaceful Sleep, het die muskiete ons bly raak byt.
Die eerste kampplek by die uitkyk-huisie was staanplek vir ‘n klein tentjie en ‘n donker Suzuki Espresso. Ons kon nie glo dat daardie karretjie dit tot in Mata-Mata gemaak het nie. Van die paaie is amper so sanderig soos ‘n strand… Maar, daar was hy! En dit was ook nie die laaste keer wat ons hom gesien het nie!
Hier is nog ‘n paar fotos van die dag:
Vir meer gebeure, click hier vir die volgende dag.