Op en af in die Auob!
Dinsdag – 16 Januarie 2024
Wat ‘n nag! Die krag gaan 22h af in die kamp en toe die lugversorger en waaier gaan staan, het al die muskiete uit die gordyn voue uitgekruip. Jy word wakker en elke ledemaat brand met bytplekke… dan zoem iets om jou kop… dan is alles natgesweet… Dit was ‘n storie.
Toe die krag rondom 5h15 aankom, het die lugversorger en die dakwaaier gelyk ingeskop en het ons ‘n laaste uur se slaap ingewerk, voor ons blase ons uit die bed gejaag het. Net na 7h het ons pad gevat, terug met die Auob langs… Winston se vensters wawyd oop om die koel oggendlug oor ons te spoel.
By Sitsas het twee kameelperde ons roete gekruis. Die naaste een het snaaks geloop. Dit het gelyk of daar vergroeide tone aan sy voorpote was.
Daar was ook ‘n rooi jakkals wat versigting op die buite-wyke van die watergat rondgehang het, om seker te maak dis veilig. Hy (of sy) het versigtig nader gedraf. Die dors was beslis groter as die bang.
By Craig Lockhart moes ons maar weer stop, net om ‘n behoorlike foto van die gevalle tak te kry. Ons het ook ‘n paar keer gestop, om van die boom-geraamtes af te neem. Dit bly maar net besondere tonele.
Na Dalkeith gewaar ek iets onder ‘n boom… en besluit om hierdie keer met die verkyker ondersoek in te stel. Dit was sowaar ‘n jagluiperd, wat gereed gemaak het vir ‘n dagslapie… Sy’t (volgens wat ons kon sien op die fotos) eers stip vir ons gekyk, toe haar omgewing na regs en na links bekyk en haarself vergewis dis veilig om daar te bly lê.
Ons het rustig van die een drinkplek na die volgende gery. Daar was nog kameelperde langs die pad, heelwat blou wildebeeste en meer springbokke as gister. Daar was selfs baba springbokkies te sien.
Naby Dertiende Boorgat was daar drie jongerige kameelperde oppad watergat toe.
Ons het omgery watergat toe en hulle gaan inwag. Hulle was maar baie versigtig om te sak om water te drink, maar so om die beurt het elkeen gedrink gekry.
Na Veertiende Boorgat het ons paaie met ‘n swetterjoel volstruisies gekruis. Daar was twee verskillende ouderdomme, een mannetjie en twee wyfies… Maar of hulle kleiner of ouer was, het nie saak gemaak nie. Almal het ewe kordaat saamgedraf, gehardloop en geskrop.
By Kamqua het ons vinnig bene gerek en toe weer die 50km terug aangepak… ons was baie vaak en baie lus vir ‘n lekker middagslapie onder die lugversorger en waaier… Of ons te moeg was en of die jagluiperd ander slaapplek gaan soek het, sal ek nie weet nie, maar ons kon haar nie weer opspoor op die pad terug nie.
Nadat ons bietjie slaap ingehaal het, was ons gereed om weer ‘n draai in die Auob af te ry.
Daar was kameelperde kort buite Mata-Mata se hek, maar ons het gehoop vir meer… Ons het afgery tot by Dertiende boorgat se watergat en toe maar weer teruggery. Buiten vir ‘n arend in ‘n boom, was daar nie veel anders te siene nie.
Met die terugkomslag was die kameelperde aan die wei teen die bokant van die rooi duine…Die keer het ons gestop…
18h30 was dit nog helder buite, maar ons was gereed vir vuur aansteek… en vir die nag se muskiete. Doom se groen-brand-spiraal-draadjies het nie krag nodig nie. Dit brand deur die nag.
Hier is nog ‘n paar fotos van die dag:
Vir meer gebeure, click hier vir die volgende dag.