2018 Kgalagadi – Dag 4

‘n Leeu van ‘n Vakansie!

Dinsdag – 2018/10/16

Vanoggend was dit nie die ongeduldige geneul van ‘n wekker wat ons wakker gemaak het nie, maar die kamp geluide soos die ander kampeerders in Nossob uit die blokke kom vir die hek wat 6h oopmaak.

So halfuur later was ons gewapen met koffie in ons flesse en beskuit vir die eerste pit stop. Met kiepie agter die stuurwiel, het Christoff ons permit by die kantoor gaan kry. Vanoggend was dit ‘n rit in die suidelike rigting.

Tot dusver het Marie se Gat nog nie veel opgelewer nie en ons het begin bespiegel dat ons maar volgende jaar eerder staanplekke in Mata-Mata en Twee Rivieren moet bespreek… Laas keer het Nossob lieflike roofvoëls opgelewer, maar hierdie keer was alles so half in die verte.

Ons het heelwat vier-voetige spore gesien wat die pad op verskeie plekke gekruis het, maar nêrens was die oorsprong van die spore sigbaar nie. By Marie se Gat aangekom, staan daar drie voertuie en bekyk hoopvol die bitter min wat by die watergat besig was om te gebeur.

Ek het nog ‘n halwe poging aangewend om ook te loer of ons nie die watergat laag vat nie, maar Christoff het net gesê ons kan maar stadig aanry Kaspersdraai toe… En soos dit ‘n goeie vrou betaam het ek gehoorsaam en stadig aangery… Ook maar goed!

Kort anderkant Marie se Gat kom ons om ‘n draai en daar stap sy, lewensgroot, tussen die droë Kalahari bossies teen die linker duin. Sy was egter oppad terug en soos ek Escapé in trurat druk, gryp Christoff die lang lens nader. Elke keer as sy stop, stop ek en as sy weer begin stap hou ek benoud dop vir enige verkeer van agter.

‘n Paar tellings later besluit sy om die pad reg voor die bakkie te kruis… en so vir ‘n oomblik op die oorkantste wal vas te hak. Sy het die lug gesnuif en so keer of wat ‘n sagte, roep-sug oorweeg, wat nie veel verder as haar kieste gekruip het nie.

Snuif-snuif die lug en roep-roep halfhartig

Toe klim sy terug in die pad en val op ‘n drafstap weg… met ons kort op haar hakke. Met tye het sy oorgeslaan in ‘n stap, dan kruip ons maar versigtig saam… Tot sy weer op die wal geklim het. Sy was duidelik soekend.

Van die wal af het sy in die ruigte in beweeg en kon ons haar rug volg soos sy deur die bossies kronkel. ‘n Minuut of twee later het sy op die loop se walletjie vasgehaak en rondgekyk… en toe verdwyn…

Leeu wyfie op die rant van die rivierloop

Toe ek weer Escapé met brandstof begin voer, het Christoff onmiddellik die fotos van die afgelope paar minute begin deurkyk… Minute… Dis ongelooflik hoe tyd in halfpas kan oorslaan as die natuur jou vir ‘n oomblik deel maak van iets so alledaags, maar tog so majestueus vir ons bos-hunkeraars.

Van daar af het ons niks meer as 30km per uur gery nie. Ons wou seker maak ons is paraat vir enige iets verder ons pad kan kruis… en vir die amper 20km Kaspersdraai toe, was dit net rustigheid en hier en daar ‘n weiende graseter.

By Kaspersdraai was daar ‘n ander voertuig. Snaaks hoe die teenwoordigheid van ‘n ander voertuig jou skielik laat wonder of daar iets is om na te kyk… Al was ons self die vorige dag of twee net wagtend langs ‘n watergat met die hoop dat iets gaan gebeur.

By die watergat was ‘n gemsbok besig om te patrolleer en in die verte ‘n jakkals-gesin wat hulle tieners in toom probeer hou het. Terwyl die een jakkals-ouer nader kom om die watergat se veiligheid te ondersoek, het die ander voertuig aanstaltes gemaak om te ry en ons het die beskuit nader getrek.

Maar voor Christoff se eerste happie nog sag was, moes hy haastig die beskuit verruil vir die kamera. ‘n Bruin hiëna het baie versigtig sy verskyning gemaak en treetjie vir treetjie die watergat genader. Die gemsbok was onmiddellik bewus van die roofdier en het met ‘n snork gaan vassteek. Hiëna se kind het ore platgetrek soos ‘n hond wat raas kry.

Hiëna in die lang gras

Die gemsbok het nader gestap en die hiëna kom intimideer, totdat die hiëna omgedraai en na ons kant toe weggedraf het. Die tekens van ‘n onlangse skermutseling was duidelik op die hiëna se gesig. Kort voor die bakkie het die hiëna weer begin stap en ‘n stadige draai terug gemaak om weer in die gras te gaan lê. Die gemsbok het teruggestap watergat toe en die jakkalsie het kom ondersoek instel. Daar was ‘n veilige afstand gehandhaaf, maar beide die jakkals en gemsbok moes besef het die hiëna was redelik skadeloos op daardie stadium… Die behoefte aan water was groter as enige iets anders.

Die hiëna het in die gras vertoef terwyl die jakkals-gesin almal hulle dors kom les het. ‘n Blou wildebees of twee het nadergekom, maar wou dit eerder nie te naby waag nie. Daar was ‘n gesnork en geblaas tussen die gemsbok en die wildebeeste en met ‘n ongeduldige blaf-snork het die wildebeeste omgedraai en weggestap.

Die wagters van die watergat
Hiëna met sy dors geles

Met die gemsbok wat spasie gemaak het, het die hiëna toe ook die kans gevat en water toe gestap, terwyl die oorblywende jakkalsie nog ‘n laaste slukkie vat… en daar begin die hiëna water drink… en drink… en drink.. en drink… en drink, terwyl die ander ‘n ent verder begin rondstaan.

Of die gemsbok die hiëna jammer gekry het en hom toegelaat het om water te kom drink, sal ons seker nie weet nie, maar hy kon net so maklik die hiëna verwilder het… Ons was net weereens bevoorreg om die wisselwerking tussen die diere te kon aanskou.

Terug by die kamp het ons vinnig by die staanplek agter die badkamers gaan aanklop. Gister se stories in die kombuis het my laat wonder of die tandarts een van die bekende name in die Kgalagadi Sightings groep is en my nuuskierigheid het die oorhand gekry.

So ontmoet ons oom Johan Kloppers. Daar was eers uitgevra oor Hendrik se tande en toe later gesels oor sy spog fotos. Hy’t ons ewe vriendelik om genooi na sy voertuig toe en die kamera nader getrek om ons ‘n sneak preview te gee op die volgende foto wat in die groep gaan opeindig.

Na ek en Christoff ‘n vinniger middagslapie genuttig het, het  Hendrik se ou Datsun onder die boom by die Kloppers-staanplek gestaan. Ek het myself heel voorbarig weer oorgenooi en ‘n foto van die twee manne gaan bedel, terwyl oom Johan nog hard aan die werk was aan Hendrik se tande.

Ons het later weer ‘n draai by die Kloppers-staanplek gaan maak. Die stel in oom Johan se hande was amper vol-tandig en Hendrik het al hoe breër geglimlag.

Ons het ‘n wyle by die kamp se uitkyk spandeer en dopgehou hoe ‘n valkie ‘n slagoffer tussen die vlae voëltjies probeer vang het. Na ‘n verfrissende stort het ons die oggend se roete weer hoopvol aangepak. Na meer as twee ure op die pad het ons teruggery in die kamp in, sonder dat die kamera een keer nadergetrek was.

Teen die tyd wat die son begin sak het, het ons braaivleisvuurtjie al hard begin werk aan kole vir die aand se vleisie.

Hier is ‘n paar fotos wat die dag geneem is:

Soekende leeu wyfie tuur oor die omgewing
Oom Johan en Hendrik onderbreek hulle bedrywigheid vir ‘n foto
Hendrik se Groen Mamba
Jongerige jakkals-wyfietjie by Kasperdraai
Een van die mooi Kgalagadi wrakke van die Nossob rivierloop

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

3 thoughts on “2018 Kgalagadi – Dag 4

Baie dankie julle is twee pragtige mense en so bevoorreg om julle te kon ontmoet. Baie bly julle kon deel wees van ou Hendrik se storie. Min mense sal ooit weet van die diep betekenis van hierdie verhaal.
Hoop ons paaie kruis weer daar waar vrede en saligheid jou omvou.

Leave a Reply to Marietha Gouws Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *